GEORGE NUUS - Pacaltsdorpers in die buiteland wou nie net sit en kyk hoe hulle familie en vriende hier swaarkry nie. Hulle het dus 'n fondsinsamelingsprojek aanlyn begin waar ander Pacaltsdorpers en Georgiete wat in die buiteland woon 'n bydrae kan maak.
"Ons het die nood op sosiale media gesien en wou ook graag 'n bydrae maak. Wat ons alleen kan doen is minimaal, so ons wou graag ander Pacaltsdorpers, wat ook in die buiteland bly, betrek om 'n bydra te maak aan die hongersnood waarin mense hulself tans bevind."
Die persoon wat die fonds begin het sê hy soek nie erkenning nie, hy wou net die regte ding doen. Hulle het 'n doel van R10 000 gestel en hoop hulle sal dit vinnig bereik sodat daar nog vele meer ingesamel kan word. "Ons is tans op £360 (± R8 300.)"
Die weldoener werk tans saam met 'n plaaslike sakeman wat self betrokke is by soortgelyke projekte in Pacaltsdorp.
"Hy gaan ons help met goeie pryse op stapelitems wat alle sopkombuise kan gebruik. Ons fokus is vir eers op Pacaltsdorp siende dat ons Pacaltsdorpers is, maar hoop dat die fondsinsamelings projek suksesvol sal wees en dat ons baie meer areas kan help."
Hy sê hulle wil graag einde van die maand voorraad begin koop, en doen 'n beroep op enigiemand wat wil help, om so gou moontlik 'n bydrae te maak.
As jy 'n bydrae wil maak klik hier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'