Update
GEORGE NUUS - Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met die onlangse plaasaanval waarin Ruan Hechter (37) sy lewe verloor het nie.
Hechter is doodgeskiet in sy woning op 'n plaas naby Madiba-rylaan (ou Saasveldpad) ná twee onbekende mans, een gewapen met 'n vuurwapen en 'n mes, die huis kort na 22:00 betree het.
Die mans het glo Hechter se vrou, Karen, in die slaapkamer oorval en glo geld, selfone en sleutels tot die kluis geëis.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder lt.kol. Malcolm Pojie, het albei verdagtes glo klapmusse gedra. "Hulle het ook die kamer van die egpaar se bejaarde ouers (van 72 en 61 jaar oud) deursoek," het Pojie gesê.
Hechter het intussen die kamer binnegekom en 'n bakleiery het met die gewapende verdagte ontstaan. "'n Skoot het afgegaan en die oorledene is in die gesig getref. Hy is op die toneel dood verklaar," het Pojie gesê.
Die verdagtes het van die toneel gevlug met 'n Lenovo-skootrekenaar, 'n maroen sak en twee selfone.
Die volgende dag is 'n 42-jarige winkel-eienaar van Parkdene in hegtenis geneem ná die gesteelde selfone en skoot-rekenaar in sy besit gevind is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is daar egter geen saak op die hofrol geplaas nie.
"Die eienaar van die perseel is in hegtenis geneem ná die gesteelde items in sy besit gevind is.
"'n Verklaring is bekom en die man is vrygelaat ná ondervraging aangesien daar in hierdie stadium geen bewyse is om hom direk aan die moord te verbind nie. Niemand is daarna in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort," sê Spies.
Enigiemand met inligting word gevra om die ondersoekbeampte ao. Daniel Ndwekuku by 044 803 4715 te skakel.
Begrafnisreëlings
Belangstellendes kan môre, Vrydag 14 Julie, 'n gedenkdiens vir wyle Ruan Hechter (37) bywoon. Joernalis Eugene Gunning, berig dat ds. Innes Benade sal voorgaan in die diens wat Vrydag om 11:00 in die NG Moedergemeente in Courtenayweg plaasvind.
Benade het by navraag gesê hy is deur die familie genader en het ingewillig. "Belangstellendes is welkom. Mense moet nie blomme bring nie. Hulle moet net kom en hul harte saambring. Ons gaan vir die land bid."
Hechter word oorleef deur sy ouers, twee susters, 'n broer en sy vrou Karen.
Vorige artikels:
- Ondersoek ná moord op plaas by Saasveld gaan voort
- Farm attacks in the Garden Route on the rise
- Saasveld murder: Two arrested with stolen goods
- Man murdered in home invasion
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’