GEORGE NUUS - Reëlings is op koers om weer aanstaande jaar die gewilde Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) in George aan te bied. Dit sal waarskynlik in September of in Oktober 2021 gehou word. Die geleentheid is in die verlede gewoonlik in Februarie gehou.
Alewijn Dippenaar, geleentheidsdirekteur, het gesê die plan is om dit nou voortaan permanent na die tweede deel van die jaar te skuif.
Die moontlikheid word ook ondersoek om 'n fietsren en atletiekwedloop vir nie-gestremdes dieselfde tyd aan te bied. Daar word wel beoog om 'n plaaslike OCC-geleentheid vir die Tuinroete in Februarie in George te hou. Dit sal aansienlik kleiner wees as die hoofgeleentheid.
Volgens Dippenaar moet in gedagte gehou word dat die Paralimpiese Spele waarskynlik einde Augustus/begin September in Japan sal plaasvind en dit sal van die atlete die geleentheid gee om daarna aan die OCC in George te kom deelneem.
Die OCC is vanjaar wel in Februarie gehou. Twee datums word vir aanstaande jaar oorweeg: 24 September of 16 Oktober.
Dit sal die 19de keer wees wat die aangebied word.
Hy het gesê Covid-19 raak die reëlings van die geleentheid. Om so 'n geleentheid aanbied te bied is borge nodig. Dit lyk in die stadium of sakeondernemings nie fondse so geredelik beskikbaar het. As dit eers in die tweede deel van aanstaande jaar plaasvind, sal dit die ekonomie weer kans gee om asem te haal.
Om so 'n geleentheid aan te bied word minstens R800 000 in kontant benodig en R400 000 in logistieke hulp soos byvoorbeeld vervoer en infrastruktuur. Hopelik sal die George-munisipaliteit soos in die verlede weer betrokke wees.
Vanjaar het 643 atlete deelgeneem en daar word gehoop dat aanstaande jaar minstens 1 000 atlete vanoor Suid-Afrika en selfs die buiteland sal deelneem. Hopelik sal daar in daardie stadium geen beperkings wees op deelnemergetalle as gevolg van inperkingsmaatreëls nie.
Alewijn Dippenaar, (heel links) gelleentheidsdirekteur van die OCC tydens die geleentheid in Februarie vanjaar.
Die organiseerders is in die proses om die wedren vir aanstaande jaar te registreer as 'n Suid-Afrikaanse kampioenskap. As dit gebeur, sal dit die wedren se status verhoog en deelnemers sal punte kan verwerf om te kan kwalifiseer vir soortgelyke internasionale geleenthede.
Volgens Dippenaar sal groter duidelikheid oor die pad vorentoe later in Oktober verkry word wanneer die algemene jaar vergadering van die Disabled Road Race Foundation plaasvind. Die geleentheid word deur die organisasie gereël.
Deelnemers aan die pret deel van die Outeniqua-rolstoelwedren in Februarie vanjaar. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'