Update
GEORGE NUUS - Die PBI versoek die openbare beskermer om die toekenning van drie erwe te ondersoek.
Een van die erwe is 'n stuk grond in Rooirivierrif, langs die Rooirivierrif-sportterrein, wat geoormerk is vir die ontwikkeling van wêreldstandaard kleitennisbane. Voorbereidings vir dié ontwikkeling is reeds aan die gang.
PBI-koukusvoorsitter Marchell Kleynhans, die party se kommunikasiebestuurder Jerome Petersen, en nog twee PBI-raadslede, Pat Buys en Virgill Gericke, het hul verslag en relevante dokumentasie Woensdag 11 Mei by die kantoor van die openbare beskermer oorhandig vir 'n ondersoek.
Die ontwikkelaar van die kleitennisbane het 'n versoek om kommentaar van die hand gewys. George-munisipaliteit het by navraag bevestig dat hulle kennis dra van die aantygings.
"Die raad het twee van die aansoeke tydens 'n raadsvergadering wat op 26 November 2021 gehou is in beginsel goedgekeur, op voorwaarde dat 'n openbare deelnameproses gevolg word waarin teenvoorstelle en openbare kommentaar en vertoë gevra word," het munisipale woordvoerder, Chantel Edwards, gesê.
"Geen kommentaar en/of besware teen die raad se voorneme om die eiendomme te vervreem is van die publiek ontvang nie," het sy gesê.
"Die administrasie bevestig dat die besluite wat die raad op 24 Februarie 2022 geneem het in die beste belang van die gemeenskappe van George was met 'n gekombineerde klem op volhoubare werkskepping en ekonomiese groei, sowel as die ontwikkeling van 'n unieke sportfasiliteit wat internasionale toernooie sal lok, en plaaslike toerisme sal bevorder.
"Die besluite is in ooreenstemming met die vereistes van die Munisipale Bate-oordragregulasies en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, 2003 (Wet 56 van 2003)."
Drie erwe
Volgens 'n verklaring van die PBI het hulle in Februarie, tydens dié raadsvergadering, kennis gegee dat hulle 'n ondersoek oor die gesogte stuk grond in Rooirivierrif gaan aanvra. Ander aansoeke vir grond het ook tydens daardie vergadering gedien. Die PBI versoek die OB om die toekenning van altesaam drie erwe te ondersoek.
Een van die erwe (24901) is in die omgewing van Pacaltsdorp, naby Hansmoeskraal, en die ander erf (24913) is langs Beachweg geleë.
Luidens die PBI se verklaring toon hul eie ondersoek teenstrydighede in die kriteria en prys in die toekenning van grond.
"In twee gevalle is beleid verander om bevoorregte besighede grond te gee sonder om deur die tender proses te gaan. In 'n derde geval, waar 'n voorheen benadeelde besigheid betrokke is, word hy verplig om deur 'n tenderproses te gaan. Selfs hierdie proses word al vir maande opgehou, terwyl grondverskuiwing reeds begin het by die tennisbaan. Blatante diskriminasie in die toekenning van grond is hier ter sprake," lees die verklaring.
"Ons ondersoek toon ook die breë verskil in die prys van grond per vierkante meter. Die tennisbaan is vir baie minder verkoop per vierkante meter, terwyl dit 'n gesogte stuk grond is.
"Daar is 'n driehonderd rand per vierkante meter verskil tussen twee van die genoemde stukke grond. Hierby gesê is dit 'n eenmansaak en word ander organisasies of die onmiddellike gemeenskap nie bevoordeel uit die opbrengste nie. Daar is geen besigheidsplan voorgelê nie."
"Bowendien is die verkrygingsbeleid van die raad oortree. Een beleid is verander om die toekenning van die grond te regverdig, terwyl die belangrikste beleid (verkrygingsbeleid) nie verander is nie. Dit is teenstrydig met die Grondwet en 'n oortreding van ons land se wette. Roekelose handeling met die raad se eiendom kan nie geduld word nie.
"Die PBI is oortuig dat hier 'n sterk saak uit te maak is vir ondersoek. Enige sodanige oortreding sal krimineel vervolg word. Dit gaan ons verstand te bowe dat voorsitters van komitees en raadslede, nie hierdie blatante ongeregtigheid kan identifiseer nie."
Vorige artikel: OB genader vir ondersoek na toekenning van grond
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'