Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Om daarvan te droom om eendag 'n ruimtetuig te bou, wil gedoen wees. Maar dit lyk of die taak redelik maklik gaan wees vir wiskundekop, Marcus Buxmann van George.
Die 17-jarige doen wiskundige berekenings in sy vrye tyd en sal liewer oplees oor ruimtetuie as om saam met vriende te gaan fliek.
Marcus, wat nou in Julie by die Nasa (nasionale ruimtevaart-en-ruimteadministrasie) se ruimtestasie in Amerika moes gaan kuier, se uitstappie is deur Covid-19 omvergegooi. Maar hy hoop om weer volgende jaar die geleentheid te kry.
Fotogalery: Slimkop Marcus kuier by George Preprimêr
Hy het Vrydag by die gr. R-leerders by George Preprimêr gaan kuier as deel van hul ruimteweek-leerplan. Die klein lyfies was baie opgewonde oor die kuier en was gereed met klomp vrae vir die skugter Marcus.
Kyk 'n video hieronder:
Sy ma, Marelize Buxmann, 'n onderwyser hier, moes soms inspring en verduidelik omdat dit effe moeilik was om al die groot woorde op die vlak te bring dat 'n gr. R- leerder dit kon verstaan. "Dit was ook die meeste wat hy in 'n jaar gepraat het," het Marelize gespot.
Sy sê sy het hom aangepor om betrokke te raak by die projek in gr. 9, en is so trots dat hy nou emosioneel sterk genoeg is en self belangstelling toon vir ruimtetuie en wat daarmee gepaardgaan.
Volgens Marelize wil hy nie maan toe gaan nie, hy wil liewer deel van die span wees wat so 'n enorme ruimtetuig bou. Om sy kennis te verbreed het Marcus ingenieurswiskunde as 'n ekstra vak. Sy ma spog ook dat hy die eerste kind in George is wat sy Kumon-wiskundeprogram voltooi het.
Marcus met die ruimtetuig wat hy uit Lego-blokkies gebou het.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'