GEORGE NUUS - Kersfees kon vanjaar vir Leo le Riche (19) se familie en vriende ‘n tyd vol droefheid gewees het, maar in stede daarvan gaan hulle die feestyd binne met harte vol dankbaarheid.
Leo het byna by die dood omgedraai ná ‘n motorfietsongeluk, maar hy verstom een en almal met die tempo waarteen hy genees, sê sy ma, Lize Els, van Glentana.
Leo het omstreeks middernag op 26 November met sy motorfiets in ‘n stilstaande Jeep in Stockenströmstraat vasgery. Hy en ‘n vriend, Ivan van Vuuren was op pad na ‘n kafee. Hy is in die Jeep vas toe hy omgekyk het om te sien of Ivan nog agter hom aankom. Sy valhelm het weens die geweldige slag afgeval.
Nadat hy in 2010 aan Outeniqua Hoërskool gematrikuleer het, het hy vanjaar by sy pa, Joep le Riche op hul plaas naby Upington gaan boer.
Hy is ‘n kranige motorfietsryer wat sy pa help wild vang in die rooi duine van die Kalahari. Leo was vir ‘n weeklange kuiertjie in George toe die ongeluk gebeur het. By die Mediclinic daardie nag moes Lize hoor dat haar kind dit "tien teen een" nie sal oorleef nie. Volgens die dokter aan diens by die noodeenheid het hy geen breinfunksies getoon nie. Sy skedel was op drie plekke gekraak. Hy het ‘n diffuse aksonale besering gehad, wat beteken dat sy hele brein seergekry het. Latere toetse het aangedui dat hy in ‘n diep koma was wat drie op die Glasgow-koma-skaal (Glasgow Coma Score) gemeet het. Dit beteken sy kanse om te oorleef was 20%, en indien hy sou leef, sou hy erge permanente breinskade oorhou.
Leo is na die George-hospitaal oorgeplaas omdat die gesin nie ‘n mediese fonds het nie. Daar het hy vir 10 ure vir ‘n bed in die hoësorgeenheid gewag.
Ten spyte van die negatiewe prognose, vertel Lize, het sy en Leo se "tweede ma", Debbie de Klerk (ma van sy een vriend, Stefan), asook ander mense na aan Leo aanhou bid en glo. "Terwyl hy in hoësorg was, was daar voortdurend mense om sy bed bymekaar om te bid en nagmaal te gebruik. Die een dag was daar selfs ‘n groep van 20 onder leiding van Emma Muller en Bernard de Bruyn. Hulle het uitgestap om verder buite saam met my te bid en in daardie oomblikke het Leo sy sussie, Judy se hand gedruk. Dit was die eerste teken dat hy bykom," vertel Lize.
"Agterna moes ek hoor die dokters het toegelaat dat so baie mense by hoësorg ingaan omdat hulle nie hoop vir Leo gehad het nie en mense wou kans gee om van hom afskeid te neem. Ook by Outeniqua is in massa vir hom gebid en Rialette Heineke het daagliks saam met my gebid."
‘Kan nie verklaar word nie’
Dit is nou vier weke later en Leo se snelle herstel, sê dokters, kan nie verklaar word nie. Een het gesê hy "kan nie verstaan wat hier gebeur het nie".
‘n Week ná die ongeluk het Leo sy volle bewussyn herwin en kon hy praat. Almal was oorstelp. "Hy kon almal wat in die hospitaal kom kuier het, herken. Dit is ‘n wonderwerk," vertel Lize. ‘n Eksterne fiksator is intussen op Leo se linker-been, wat verskeie frakture het, aangebring sodat dit kan aangroei. Hy het verlede Donderdag ook ‘n veloorplanting op die been gehad. Hy sal uitgebreide arbeids- en fisiotera-piebehandeling moet ontvang.
Op Stefan se inisiatief het ‘n groepie vriende saam ‘n trustrekening gestig om hierdie kostes te help dek. Die reke-ningbesonderhede is: Cilliers Odendaal Prokureurs, Nedbank George, rekeningnommer: 162 604 4589, takkode: 162 645, verwysing: L1119.
Lize en Debbie het baie lof vir die George-hospitaal. "Ons wil al die spesialiste, dokters en verpleegpersoneel bedank vir hulle toegewydheid en mooi versorging van Leo."
ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
Posted on: 00:00 Thu, 22 December 2011
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: