GEORGE NUUS - 'n Vyf uur lange operasie en daaropvolgende radiasie van enorme keloïede aan sy gesig en nek was alles die moeite werd.
Alhoewel sy voorkoms hom nog nooit gekeer het om voluit te leef nie, lyk Melvin Maxim deesdae fantasties. "Mense sê almal ek lyk baie goed," het hy Dinsdag gesê. Daar is geen sprake van die groeisels aan sy gesig en nek nie.
Dit is gewoonlik die eerste ding wat mense raaksien, wanneer hulle hom vroeër op straat gesien het.
Vir dekades het hierdie familieman met sampioenagtige groeisels, oftewel keloïede, saamgeleef wat sy hele liggaam oortrek het. Die keloïede aan sy gesig en nek is op 'n stadium verwyder, maar is nie daarna met radiasie-behandeling opgevolg nie en het eenvoudig teruggegroei.
Keloïede vorm wanneer littekenweefsel buite beheer begin groei en word baie groter as die oorspronklike wond. Melvin leef al hiermee saam sedert sy tienerjare.
Dr. Ansua-stigting
Die mees onlangse operasie by die Advanced Health Surgical Centre in Knysna verlede November is deur dr. Ansua Steyn-Ahlstrom van die Dr. Ansua-stigting, twee plastiese chirurge, dr. Stephen Wilson, dr. Marshall Murdoch, en die narkotiseur, dr. Catharine Knights gelei.
"Na 'n ongelooflike vyf uur lange operasie in Knysna, het ons met Melvin na Hermanus gejaag," het dr. Steyn-Ahlstrom destyds vertel.
Dit is waar die radiasie plaasgevind het. Nou, bykans twee maande later, pluk Melvin die vrugte van hierdie pynvolle proses.
"Die pyn is baie minder na die operasie, ek slaap baie beter," het hy gesê. "Ek is voltyds aan die gang, ek kan nou fokus op my werk, myself en my familie. Mense kyk my nie meer snaaks aan op die bus nie."
Vorige artikels:
- Verlos van ongeneeslike op gesig
- Melvin net-net betyds vir radiasie na operasie
- 'n Nuwe voorkoms: Melvin se groeisels onder die mes
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’