Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Alhoewel hy nie aanvanklik die simboliek raakgesien het nie, kyk Melvin Maxim nou met nuwe oë na 'n foto van hom in Hermanus langs 'n enorme walvisbeeld, wat verlede naweek na radiasiebehandeling by 'n onkologie-eenheid geneem is - behandeling wat uiters noodsaaklik is vir sy herstel.
Dit volg na 'n vyf uur lange operasie in die Advanced Health Surgical Centre in Knysna verlede Donderdag 30 November, waartydens sampioenagtige groeisels, genaamd keloïede, van sy gesig en nek verwyder is.
Keloïede vorm wanneer littekenweefsel buite beheer begin groei en word baie groter as die oorspronklike wond. Melvin leef al hiermee saam sedert sy tienerjare.
"Ek besef nou hoe groot die probleem was wat ek gehad het," het hy gesê. "Ek staan langs hierdie groot walvis, wat maar net daar lê, en dit is nie vir my gevaarlik nie. Ek het dit oorwin, hierdie titaniese stryd, met die hulp van die Dr. Ansua-stigting wat alles moontlik gemaak het. Net so met die walvis, wat nou net daar lê. Ek is oor daai. Alles wat gebeur het is in sinc met mekaar. God het alles aan die einde van die dag beplan."
Voor die operasie aan sy gesig en nek: Melvin leef al saam met die keloïede sedert sy tienerjare.
Die operasie is gelei deur dr. Ansua Steyn-Ahlstrom van die Dr. Ansua-stigting, twee plastiese chirurge, dr. Stephen Wilson, dr. Marshall Murdoch, en die narkotiseur, dr. Catharine Knights.
"Na 'n ongelooflike vyf uur lange operasie in Knysna, het ons met Melvin na Hermanus gejaag," het dr. Steyn-Ahlstrom gesê.
"Ons het aanvanklik gedink die operasie gaan twee ure neem. Dit was ook baie belangrik dat hy so gou moontlik na die operasie bestraling kry, so hy is dadelik na Hermanus geneem waar hy bestraling met 'n spesiale masjien ontvang het. Hierdie masjien is tans net in Hermanus en Johannesburg beskikbaar." Melvin het drie behandelings oor twee dae ontvang.
Volgens Steyn-Ahlstrom gaan dit tans baie goed met Melvin, alhoewel hy kort na sy operasie glad nie lekker gevoel het nie. "'n Mens moet onthou, dit was werklik 'n groot operasie," het sy gesê.
Terwyl hy besig is om te herstel, kan Melvin, wat as skrynwerker werk, nie 'n inkomste genereer nie. Hy vra tans hulp met enige donasie wat hom deur hierdie tyd kan help.
Steyn-Ahlstrom het reeds voor die operasie 'n BackaBuddy-rekening oopgemaak waarin mense of besighede 'n skenking aan Melvin kan maak.
Melvin in Hermanus verlede week, waar hy radiasiebehandeling ontvang het.
Melvin Maxim verlede naweek, na radiasiebehandeling by 'n onkologie-eenheid in Hermanus.
VIDEO - Melvin Maxim van George se vyf uur lange operasie om keloïede te verwyder:
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’