Update
GEORGE NUUS - In ‘n resies teen tyd is Melvin Maxim van George gistermiddag net na sy keloïede operasie van Knysna na Hermanus gejaag vir die eerste van drie noodsaaklike radioterapie-sessies wat hy kort na die chirurgie moes ondergaan.
Omdat Melvin vars uit die teater die eerste sessie radiasie moes kry om die kans dat die keloïede teruggroei te verskraal, het Nikki du Toit van Lekker in George aangebied om reg te staan om Melvin net na die operasie na Hermanus te neem.
Selfs die Wes-kaapse verkeersowerhede het ingestem om nie Nikki se voertuig vir spoedoortredings te stop nie aangesien Vader Tyd vir niemand wag nie – veral nie na ‘n keloïede operasie nie.
Melvin sal vandag die ander twee radioterapie-sessies ondergaan waarna hy en Nikki weer die pad sal aandurf – heelwat rustiger die keer!
Gister se operasie het dubbeld so lank gevat as beplan en was uiteindelik ‘n baie groot chirurgiese procedure van 5-en-’n-half-uur lank. So, toe Melvin uiteindelik na 13:00 uit die teater gestoot is, was hy en Nikkie kort daarna oppad na Hermanus waar die span radioloë in spanning sit en wag het. Omstreeks 17:30 was hulle daar en kon almal ontspan.
Melvin Maxim tydens die radioterapie-sessie in Hermanus.
Melvin het die lewensveranderende operasie om die groeisels van sy nek en kop te verwyder by die Advanced Health Surgical Centre in Knysna ondergaan in die bekwame hande van plastiese chirurge dr. Stephen Wilson en dr. Marshall Murdoch, narkotiseer, dr. Catherine Knights, asook dr. Ansua Steyn-Ahlstrom van die Dr. Ansua Stigting.
Dr. Ansua het gereël dat Melvin die teater, die narkotiseer, die dokters, die radiasie en vervoer van Knysna na Hermanus en terug na George gratis ontvang.
Dr. Ansua het vanoggend aan George Herald gesê dat die operasie goed afgeloop het en dat sy net verlig is dat Melvin gister sy eerste radioterapie-sessie kon kry. “Keloïede groei terug en ons hoop dat hierdie nuwe terapie dit dié keer in toom sal hou.”
Van links is narkotiseer dr Catherine Knights, dr. Marshall Murdoch, dr. Stephen Wilson en dr. Ansua Steyn-Ahlstrom van die Dr. Ansua Stigting.
Vorige artikel: 'n Nuwe voorkoms: Melvin se groeisels onder die mes
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’