GEORGE NUUS - Toe Pinnochio gejok het, het sy sy neus langer geword. As jy nou aansoek doen vir werk en jok oor jou kwafikasie(s), staar jy veel erger probleme in die gesig.
Ingevolge die nuwe Wysigingswetsontwerp op Nasionale Kwalifikasies wat verlede week inwerking getree het, kan jy beboet word of selfs tronk toe gaan as jy jok oor jou kwalifikasies.
En dis nie net jou nuwe werkgewer wat die lewe vir jou moeilik kan maak as jy uitgevang word nie. Enige lid van die publiek kan dit onder die aandag van die owerhede bring as daar vrae is oor iemand se kwalifikasies.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer en direkteur van Alfa&Omega Networked Business Solutions, het by navraag gesê dat hy persoonlik baie min sulke voorvalle van bedrog beleef het. Hy het benadruk daar kan wel vasgestel word of iemand jok en dit is baie belangrik om eerlik daaroor te wees.
As 'n klient versoek om vas te stel of iemand se kwafikasies eg is, is daar 'n bepaalde proses wat gevolg word. Dit neem gewoonlik sowat 48 uur.
Sy advies aan mense wat aansoek vir werk doen is om te alle tye eerlik te wees in alle aspekte van hul aansoek. Dit gaan nie net oor kwalifikasies nie.
Hulle moet liefs ook verklaar of hulle in die verlede byvoorbeeld in tugondersoeke, wat nog binne die toepaslike geldige periode is, by hul vorige werkgewer betrokke was. Die inligting kom gewoonlik tydens opvolging van verwysings uit.
Sou inligting later uitkom wat oorspronklik verswyg is of nie korrek deurgegee is, kan die nuwe werkgewer die persoon verhoor of selfs afdank.
Volgens hom is daar is verskeie "hekkies" in 'n aansoek-proses. Die egtheid van kwalifikasies is net een aspek.
'n Aansoeker gaan deur verskeie "hekkies" soos byvoorbeeld die "onderhoud-hekkie" en die verifieering van die aansoeker se kwalifikasies. Daar kan ook vasgestel word of die aansoeker 'n kriminele rekord het. Voorts kan psigometriese toetse as een van die hekkies gebruik word.
Dit alles help om seker te maak dat die regte kandidaat aangestel word.
Sy advies aan werkgewers is kyk na die totale pakket en om nie sommer die eerste beste kandidaat aan te stel nie. Neem ook besluite met jou kop en nie met jou hart nie. Al is iemand familie/vriende moet dit nie 'n rol speel om iemand aan te stel.
Die werkgewer moet hom/haarself die vraag afvra of die kandidaat se vaardighede en waardestelsels inpas by die maatskappy/organisasie.
Navorsing wat deur dr. Brad Smart, 'n internasionaal bekende personeelkundige gedoen is, wys dat 'n verkeerde aanstelling 'n maatskappy tot 5 jaar se salaris kan kos.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'