Update
GEORGE NUUS - Die situasie in Proteastraat, New Dawn Park is kalm. Die grondbesetters van Moeggehuur wag op antwoorde van die George-munisipaliteit nadat die George-burgemeester, Melvin Naik, die waarnemende munisipale bestuurder, Reggie Wesso, en direkteur van behuising, Charles Lubbe hulle kom toespreek het.
Voordat die delegasie daar weg is, het die grondbesetters wat krag eis, gesê die Go George-bus, wat hulle vroegoggend voorgekeer het, sal daar bly totdat die munisipaliteit terugkeer met positiewe antwoorde.
Daar is onderneem om 'n vergadering vir vanmiddag 14:00 te reël waar elektrotegniese dienste met die grondbesetters sal ontmoet.
Nadat die bus voorgekeer is, het die busbestuurder na bewering weggehardloop. Die betogers het daarna die pad versper met brandende houtplanke en -pale.
Hulle het aan Naik gesê hulle soek vandag nog krag. "Ons het nou al met julle onderhandel, ons is datums gegee, niemand het uitgekom nie. Hoekom vat dit so lank vir die grond om oorgedra te word? Ons sit nog steeds waar ons was, dis amper ‘n jaar later. Die mense is op. Dis amper Kersfees en ons het nie beligting nie," het een betoger gesê.
Hulle toilette is blykbaar ook stukkend, met slegs een van die vier, werk.
Die area waar die grondbesetters plak behoort aan openbare werke.
Nog ‘n betoger het verwys na die hofuitspraak oor die plakkers se besetting waarin daar beslis is dat die munisipaliteit die mense moet help en dienste verskaf. Hy wou weet hoekom hulle [die grondbesetters] hulle tot die aksies moet wend om antwoorde by die munisipaliteit te kry nie.
Naik het hierop gereageer en gesê hy weet nie wat die inhoud van die hofuitspraak is nie.
"Ek weet nie wat dit sê nie. Julle verwys na oordrag [grond], dis uit ons hande. Die versoek om die grond oor te dra na ons toe is deur na public works toe om die grond oor te sit. Om die grond nou oor te dra na ons toe, is nie in ons hande nie. Oor die hofuitspraak sal mnr. Lubbe vir julle kan sê omdat hy by dit betrokke was."
"Ek verstaan julle soek elektrisiteit. Daar is ‘n proses. Julle moet onthou, ek gaan nie vir julle sê wat julle wil hoor nie, maar die waarheid. Ons moet gaan kyk hoe ons dit gaan doen as dit gedoen kan word. Ek sê nie elektrisiteit kan nie kom nie, daar is ‘n proses daaraan verbonde om dit te kry. Die grond is nog nie die munisipaliteit s’n nie.
"As ons nou inkom en net krag opsit op public works se grond… dis die ding wat regsdienste nou besig is om uit te sorteer met elektrisiteit. Wat is die munisipaliteit se verantwoordelikheid…tree ons korrek of onwettig op om net krag op te sit. Hulle moet vasstel of die munisipaliteit binne sy reg optree en /of krag voorsien kan word. Dit is nie dat die munisipaliteit nie krag wil gee nie, maar ons moet binne ons reg optree en weet ons doen die regte ding," het Naik gesê.
Theresa Fortuin, 'n inwoner van New Dawn Park en gemeenskapsleier, het op haar beurt gesê sy verstaan die mense se frustrasie en dat sy op vorige geleenthede aan die munisipale amptenare genoem het dat kommunikasie met die mense belangrik is.
Sy wil ook hê die oordragproses moet bespoedig word. "As julle vir die mense sê dis die situasie dan sal hulle verstaan, maar hulle [amptenare] sê nie vir die mense wanneer hulle weer gaan vergader nie. Mnr. Lubbe kom terug na ‘n mens as jy boodskappe los, maar daar is van die amptenare wat glad nie op boodskappe reageer nie.
"Die enigste probleem is die grond wat nie munisipale grond is nie, dis public works s’n. Die ophou van dit was gewees hulle [munisipaliteit] kan nie dienste verskaf nie omdat die grond nog nie oorgedra is nie. Iemand moet net teken, dis eenvoudig," het sy gesê.
Fortuin sê ook dit kom voor of elkeen "net sy eie ding doen" by die munisipaliteit. "U dra dan van niks kennis, dis ‘n slegte boodskap wat na buite uitgaan... wat vir ons sê ons verstaan nie wat daar aangaan nie. U politieke-afdeling moet bewus wees van wat aangaan in die gemeenskap," het sy bygevoeg.
Lubbe het op sy beurt gesê die munisipaliteit het terugvoer gegee aan die hof met betrekking tot die hofbevel - oor dit wat reeds gedoen is en dit wat nog afwagtend is. Naik het ook, nadat hy ‘n kopie van die bevel onder oë gehad het, gesê wat die hofbevel betref, moes die munisipaliteit aan die hof antwoorde gee en dit het Lubbe en sy personeel gedoen.
Wesso het aan die Moeggehuurders die situasie rondom die voorsiening van krag verduidelik.
"Ons is onderhewig aan sekere wetlike vereistes. Wanneer ons krag voorsien moet dit op ‘n veilige manier gedoen word. Ons moet klarigheid kry en dit is wat regsdienste in oorleg met ons elektriese department tans aan werk. Hulle moet seker maak dat die munisipaliteit nie homself blootstel om krag te voorsien en môre oormôre gebeur daar iets binne die gemeenskap dan word die munisipaliteit aanspreeklik gehou. Ons probeer dit uitklaar," het Wesso gesê.
Moeggehuurders het op 31 Oktober voor die George-munisipaliteit opgeruk ook oor die kragsituasie.
Lees vorige artikels:
- Opvolg: Protesaksie in New Dawn Park
- Protesaksie in New Dawn Park
- Kragkwessie kwel moeggehuur
- Moeggehuur soek dienste
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'