Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sowat 300 agterplaasbewoners het Vrydag in George-middedorp saamgetrek vir hul reg om ook 'n huis te besit. Baie van die ouer mense het aan die George Herald vertel dat hulle al tussen 25 en 40 jaar wag vir 'n huis en nog steeds op die behuisingswaglys is.
Agterplaasbewoners uit Pacaltsdorp, New Dawn Park, Rosedale, Rosemoor, Borcherds, Lawaaikamp, Maraiskamp, Conville en Thembalethu deel dieselfde nood, om 'n plekkie van hul eie te besit.
Die betoging wat deel was van 'n nasionale optog, wou dit duidelik maak aan plaaslike sowel as die provinsiale en nasionale regering dat hulle moeg gewag is vir die regering om op te tree. Die organiseerders vra vir 'n imbizo in die Wes-Kaap, asook hier in George, om al die probleme op te los.
Een van die plaaslike organiseerders Brendon Adams, sê as die regering nie binne 14 dae terugkom met 'n antwoord nie, gaan hulle optree. "Ons sal grond vat in areas waar ons voorheen verwyder is. En ons vra dit vir een en elk, regoor die kleurgrens, wat nog steeds wag vir 'n huis." Daar is aan die media gesê een van die redes hoekom mense nie meer glo die regering gaan hulle help nie, is omdat mense se aansoeke net verlore raak.
Kyk 'n video hieronder:
Die betogers sê daar word net geld uit hulle gemaak, en omdat hulle verleë is, byt hulle maar vas. Maryna Blaauw van Borcherds vertel sy het in iemand se agterplaas grootgeword, en nou word haar kinders ook so groot.
Adams sê hulle vereis antwoorde oor die imbizo en 'n pad vorentoe, asook terugvoering aan elke dorp by 'n openbare vergadering soos die een wat op 20 September in Conville-gemeenskapsaal gehou gaan word.
Onderburgemeester, Charlotte Clark (in die blou) wag om die memorandum van die agterplaasbewoners te ontvang. By haar staan Teresa Fortuin, Brandon Adams en Mervin Olivier.
Jacoba Japhta sê haar man is sieklik en hulle is siek en sat van in 'n agterplaas woon.
Lees vorige artikels:
- Update: Protest for housing
- Verwarring oor optog veroorsaak oponthoud
- Moeës hou optog
- Beplande optog vir vandag, Vrydag 30 Augustus
'We bring you the latest George, Garden Route news'