Die wenner, Marlene Davis van Riversdal, het opwindende pryse ter waarde van R28 000 ontvang en spesiale erkenning is ook aan die ander vroue gegee met ‘n pragtige bos blomme en ‘n sak vol verrassings vir elkeen.
Die persone wat die finaliste genomineer het, is ook genooi om die oggend saam te geniet. Verlede jaar se wenner, Jennifer Hartnick, was een van die spesiale gaste en het die finaliste aangemoedig om vol te hou met die onbaatsugtige diens in die gemeenskap waarvoor hulle genomineer is. "Elkeen is ‘n wenner, of jy nou die meeste stemme gekry het of nie," het sy gesê.
Mandi Botha, redakteur van die George Herald, het die vroue met haar gewone warmte verwelkom en uit haar hart bedank vir hul bydrae tot die samelewing en die manier waarop hulle ander se lewens aanraak en beter maak. Midde-in die vrolikheid van die oggend het sy bewoë geraak toe sy verwys het na die groot lewensverlies wat die Rheenendal-gemeenskap twee dae vantevore geruk het. "Ons streek ween vandag - ons is stukkend en bloei saam met die Rheenendal-gemeenskap wat Woensdag 15 lewens in die busongeluk verloor het. Maar dit is vroue soos julle wat die gawe en die vermoë het om heel te maak en op te tel, wat ons in staat stel om weer aan te gaan en betekenis in die lewe te vind. Dankie vir elke ongesiene daad agter die skerms en dankie vir elke lewe wat julle op 'n nuwe en beter koers plaas. Ons salueer julle!"
Die oggend is afgesluit met ‘n gesellige kuiertjie terwyl Pomodoro’s heerlike foccaccia en koffie voorgesit het, geborg deur Group Editors.
Group Editors bedank al die borge vir die oop hand wat hulle geopenbaar het in die borg van ‘n klomp ongelooflike pryse vir die wenner en haar nomineerder. Hulle is Simola Hotel, Country Club & Spa, Garden Route Casino Hotel & Spa, Third Generation, Views Boutique Hotel & Spa, Ian Fleming the Photographic Company, Pezula, Oakhurst Hotel, langeberg Mall, Botlierskop Private Game Reserve, Illa Salon, Tuinroete Agri, Bodysense Welless & Beauty and Café Gannet. Dankie ook aan al die borge wat die verrassings in die bederfpakkies geskenk het en aan Flowers for You vir die bos blomme vir elke finalis (totale waarde R1 800).

Die Mees Inspirerende Vrou van die Tuinroete en Klein-Karoo 2011, Marlene Davis van Riversdal (middel) saam met haar voorganger, Jennifer Hartnick van Slangrivier wat die omgewing se parlementslid is, en ‘n trotse Elize Blom, redakteur van die Suid-Kaap Forum uit wie se lesersgebied albei wenners kom.
Nog foto's hier.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-VERSLAGGEWER.