GEORGE NUUS - As dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sy sin kry sal daar nog landbouskole in die Tuinroete gevestig word. Op die oomblik is daar net Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal.
Meyer was Vrydag 6 November die gasspreker by 'n geleentheid by die George-skouterrein wat deur verskeie landbouers en sakeleiers bygewoon is. Onder hulle was Nelius van Greunen, die George-sakekamer se sakepersoon vir 2019 en onder meer ’n groot melkprodusent.
George-burgemeester, Leon van Wyk, ander burgemeesterskomiteelede en Gerrit Pretorius, speaker van die stadsraad, het ook die geleentheid bygewoon.
Meyer het ter aanvang landbouers bedank vir hulle rol en verwys na die melkboere wat 'n bron van stabiliteit in die gebied is.
Hy het 'n oorsig van die situasie in die Wes-Kaap gegee en ook gewys op die belangrike bydrae van landbou in die ekonomie van die Tuinroete. Met die teenwoordigheid van Covid-19 het al die sektore van die ekonomie negatief gegroei behalwe landbou.
Volgens Meyer moet die nasionale regering sy houding teenoor landbouers verander. Hy het ook gewys op die belangrikheid van navorsing en opleiding.
Van die aanwesiges wat die vergadering by die George-skouterrein bygewoon het.
Op die oomblik is daar net een landbouskool in die Tuinroete. Daar moet vier wees. Alle belanghebbendes moet saamwerk sodat meer landbouskole in die streek gevestig kan word. Volgens hom het 'n jong seun wat landbou studeer en op 'n plaas stap, 'n ingesteldheid van bou.
Op die oomblik is daar burgerlike ongehoorsaamheid in Suid-Afrika.
Hy het reeds met die onderwysdepartement gepraat om meer geld opsy te sit vir landbouskole. Dit gaan egter nie oornag gebeur nie. Vir die onmiddellike moet landbouvakke soos landboubestuur en landboutegnologie by bestaande skole aangebied word.
Meyer het ook gewys op die belangrikheid van landelike veiligheid. Daar kan nie toegelaat word dat landbouers vermoor word nie, het hy gesê. Hyself het landelike veiligheid 'n persoonlike prioriteit gemaak. Aan die einde van November gaan 'n nuwe landelike veiligheidsafdeling (desk) in sy departement gevestig word.
Landbouers moet beskerm word. Hulle lewer 'n enorme bydrae tot die ekonomie. Hy sal self hof toe gaan wanneer verdagtes verskyn wat landbouers aangerand of vermoor het. Hy sal borgtog teenstaan vir verdagtes wat beskuldig word van moord op landbouers.
Dr. Ivan Meyer (links) Wes-Kaapse minister van landbou en Leon van Wyk, George se burgemeester by die vergadering by die George-skouterrein.
Foto's: Eugene Gunning
If dr Ivan Meyer, Western Cape MEC for agriculture has his way, there would more agriculture schools in the Garden Route. At the moment there is only one and he wants four he said at an agriculture event in George. He also stressed the importance of rural safety and announced that at the end of the month a rural safety desk will be established in his department.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'