OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Urban Tertius Calitz (79), wat vroeër die week in ‘n ongeluk in Meiringspoort oorlede is, is verpletter oor die heengaan van hul pa en oupa.
Volgens Selma Calitz, Urban en Rina Calitz se dogter, was haar ouers, wat in Mosselbaai woonagtig is, op pad om by haar broer in Pretoria te gaan kuier.
“Hulle sou daarna by my in Bloemfontein kuier. My ouers het deur Meiringspoort gery met hul hondjie, Bulletjie. Ons het verneem dat ‘n ambulans agter hulle gery het en die ongeluk sien gebeur het. Ons het verstaan dat die ambulansbestuurder gesien het hoe die kar heen en weer oor die pad swenk waarna my pa beheer verloor het en oor van die sementpaaltjies by een van die driwwe gery het. Die personeel van die ambulans het onmiddellik my pa gehelp en na MediClinic in Oudtshoorn geneem, maar weens ‘n ernstige kopbesering is hy na George oorgeplaas. Hy was nog by sy bewussyn en het met mediese personeel gesels. Hy is in George oorlede.”
Rina is nie beseer nie.
Volgens Calitz het die hondjie, Bulletjie, met die ongeluk uit die voertuig gehardloop en was hy amper 24 uur vermis toe lede van Oudtshoorn Dogs In Need hom naby die ongelukstoneel in die Poort gered het.
Sy sê wat die situasie vir haar nog erger maak is dat haar ma aan demensia ly.
“Ons het aan haar verduidelik wat gebeur het, maar soms vra sy na my pa. Ander kere is sy glashelder en dan besef sy hy is weg. Dit is vir ons as familie ‘n bitter teer saak. My broer het gister verjaar en moes op sy verjaardag my pa se liggaam gaan uitken.”
Selma sê dat haar ma saam met haar of haar broer sal huis toe gaan en dat Bulletjie steeds by haar ma gaan bly.
“ Wanneer my ma ekstra hulp gaan benodig sal Bulletjie na of my of my broer gaan.”
Volgens haar is daar reeds begrafnisreëlings getref.
Haar pa word deur haar, haar broer en haar en drie kleinkinders oorleef.
Vorige artikel: Bulletjie in berg na ongeluk gevind
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’