GEORGE NUUS - 'n Talentvolle gr. 11-leerder van hier, Maja Snyman (16), is verlede jaar gekroon as die algehele wenner van die Suid-Afrikaanse kampioenskappe van uitvoerende kunste (Sacopa), met 'n ten volle gefinansierde toer na Los Angeles vir die wêreldkampioenskappe in Julie vanjaar.
Nou het die tyd uiteindelik aangebreek: Maja, 'n leerder by McKinley Reid International School in Blanco, vertrek eerskomende Saterdag, 22 Julie, vanaf George na OR Tambo-lughawe, waar sy by die res van die Suid-Afrikaanse span aansluit.
Op Maandag 24 Julie vertrek die hele span na die stad van die engele.
Sy gaan in Los Angeles aan agt items deelneem tydens die wêreldkampioenskappe van uitvoerende kunste: vyf items op viool, twee vokale items en een met klavier.
Daar is altesaam drie rondes. Die eerste ronde is vir medaljes, waarna die wenners van goue medaljes deurdring na die tweede ronde waartydens hulle die wenners van die verskillende afdelings (byvoorbeeld vokaal, instrumentaal, drama) kies. Tydens die eindronde word die algehele wenner aangewys.
Maja Snyman is 'n gr. 11-leerder by McKinley Reid International School in Blanco.
Maja het die volgende vrae geantwoord oor haar opwindende vooruitsig en oorsese reis:
Waarna sien jy die meeste uit?
Definitief om Amerika vir die eerste keer te sien omdat ek nog nooit oorsee was nie. Ek is baie opgewonde om al die groot verskeidenheid van talent te sien en klomp nuwe en interessante mense te ontmoet en my passie vir musiek met hulle te deel.
Wat is jou raad vir ander wat ook wil deelneem?
Die belangrikste vir so kompetisie is oorspronklikheid.
Selfversekerdheid is baie noodsaaklik - glo in jouself, gaan op die verhoog om jou talent ten toon te stel en probeer ander inspireer met jou optrede.
Gaan jy ekstra tyd in LA spandeer?
Ek moet oral saam met die SA span gaan, niemand mag ander reisplanne hê of elders akkommodasie vind nie. As span gaan ons Hollywood en Universal Studios besoek. Ek hoop om 'n paar celebrities te sien. Die enigste dag wat ek af het is die Donderdag voor die kompetisie begin. Ek hoop om Disney World toe te gaan omdat dit 2 km weg is van waar die wêreldkampioenskappe gehou word in Anaheim, Los Angeles.
Gaan jy alleen of saam met jou ouers?
Daar is nie 'n manier dat ek na hierdie kompetisie toe wil gaan sonder my ma nie. Sy gaan saam vir ondersteuning natuurlik en om my te help met al die quick changes tussen my items, dikwels het mens net 'n paar minute voor jy weer op die verhoog moet hardloop. Ek trek 'n verskillende kostuum aan vir elkeen van my items, dit is after all the performing arts!"
Wat is jou verwagting van die kompetisie?
Om eerlik te wees, ek weet glad nie wat om te verwag nie. Vir my is dit 'n goeie ding, ek hou van verrassings. Wat ek wel weet is dat daar ongelooflike talent gaan wees en dat die kompetisie baie erg en uitputtend is. Ek kry eers die program vir wanneer ek optree wanneer ons daar aankom en ek hoop net nie ek tree laat in die nag of 1 uur die volgende oggend op nie, ek hou van my slaap.
Wat gaan jy na die wêreldkampioenskappe aanpak?
Dit is vir seker 'n hoogtepunt. Ek het vier jaar lank geoefen om die Suid-Afrikaanse kompetisie te wen. Ek is 'n tipe persoon wat 'n geleentheid aangryp as dit hom voordoen, ek hou nie baie van beplanning nie - seker maar my kunstenaarstemperament. Ek glo dat enige iets wat gebeur na hierdie kompetisie, so beskik is. Ek hoop natuurlik dat 'n "talent scout" my sal raaksien en dan vat ons dit van daar af.
Beoog jy om in die kunste te studeer?
Ek het nog nooit enige formele musiekeksamens gedoen nie en mens het dit nodig om musiek te studeer. Ek wil definitief nie 'n musiekonderwyseres word nie. My idee is om my musiektalent te gebruik om die wêreld te toer, ek wil soveel as moontlik mense inspireer om 'n musiekinstrument te bespeel.
Verwante artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’