GEORGE NUUS - Die vyftienjarige Maja Snyman het weer met die hoogste toekenning by die Talent Africa-kompetisie, wat die afgelope naweek by die Masque Theatre in Muizenberg, Kaapstad, plaasgevind het, weggestap.
Maja is gekroon as die Overall Senior Talent van Talent Africa, en het arms vol trofeë en medaljes in haar onderskeie kategorieë verower. Maja speel viool, klavier, sing en het ook deelgeneem aan die Face of Talent Africa-afdeling.
Dit kom kort op die hakke van haar vorige oorwinning, sowat 'n week gelede, as die algehele junior wenner van die Suid-Afrikaanse kampioenskap van die uitvoerende kunste (Sacopa).
"Sy het deelgeneem aan die senior kategorie van Talent Africa, maar is nou eers klaar met kompetisies en moet nou aandag gee aan haar akademie," het haar ma, Annerie Snyman, gesê.
"Van nou af gaan sy nie meer haar tas in die motor los as sy van die skool af kom nie - dit was vroeër die verskoning, omdat sy moes oefen. Sy het selfs 05:00 soggens opgestaan oor die laaste twee maande, om te oefen. Nou is dit haar Cambridge IGCSE eksamen, haar klavier-, teorie- en viooleksamens wat voorlê. Sy wil graag kookkuns (culinary arts) gaan studeer. Haar musiek is een van haar stokperdjies, maar sy wil nie noodwendig 'n beroep maak van haar stokperdjie nie."
Maja Snyman, 'n vyftienjarige violis en pianis van Glentana wat by McKinlay Reid International Academy in George skoolgaan, is die junior wenner van die Talent Africa-talentkompetisie.
Maja kry vioollesse by die Russiese violis, Irene Tsoniff, en klavierlesse by Sunette Naudé van Glentana (ook 'n onderwyser by Glenwood House) en haar steminstrukteur is Tashia Olivier van Tashia's Vocal Academy in George.
Maja se Talent Africa-prestasies
Top-10 Instrumentaal; Top-10 Vokaal; Overall Senior Instrumentalist; Best Senior Talent Africa Vocal Idol; Triple Threat - hoogste punte bereik in drie van haar items; Overall Senior Talent van Talent Africa; Vier goue medaljes vir vokaal en Face of Talent Africa (85% - (90%); Vier platinum medaljes vir viool en klavier (90% - 95%); Een diamant medalje (bokant 95%) vir een vioolitem.
Maja het armsvol trofeë en medaljes in haar onderskeie kategorieë verower.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'