GEORGE-NUUS - Sy was skaars mondig toe Stella Streaton van Uitenhage deur haar skoonouers gedwing is om haar ses maande oue baba-seuntjie te laat aanneem.
Die afgelope naweek, 52 jaar later, is sy herenig met haar seun, Danie Barnard, wat deur ‘n vriendin by die Emmaüs Sentrum opgespoor is.
Stella en haar gewese man, Allen Lee was beide 21 jaar oud en baie verlief toe hulle getroud is, maar Lee se ouers het hul finansiële mag gebruik om die paartjie se huwelik te beëindig, skaars ‘n maand nadat sy haar baba aan ‘n vreemdeling moes gee.
"Hulle (skoonouers) het my gebel en genooi vir tee om iemand te kom ontmoet. Toe ek stop en uit die kar klim, kom ‘n vreemde vrou na my toe en vat my baba. Hulle sê toe vir my my kind is nou aangeneem. Dit was verskriklik," vertel Stella.
Die trane het vrylik gevloei met die herlewing van die tragiese gebeurtenis wat beide haar en haar seun se lewe onherroeplik verander het.
Verdere verdriet
Stella het by verskeie geleenthede deur die jare probeer om haar seun weer te vind, maar was onsuksesvol. Sy het vir 52 jaar met sy geboortesertifikaat in haar beursie rondgeloop. Sy het haar baba geregistreer as Gilchrist Rautenbach, na haar nooiens-van (hy is gebore ‘n maand voor hulle getroud is). Gilchrist het egter Afrikaans grootgeword as Danie Barnard.
Danie was 12 jaar oud toe hy breinskade in ‘n motorongeluk opgedoen het.
Stella, wat intussen weer getroud is, is gekontak met die versoek om hom terug te neem. Haar man het egter daarteen besluit, aangesien hulle beide gesukkel het met kanker - sy gesigkanker en haar man long-kanker. Hulle het boonop drie jong dogters grootgemaak.
Stella is ook verkeerdelik meegedeel dat Danie erge breinskade het weens ‘n motorfietsongeluk, wat ‘n verdere onwaarheid was.
Sy weet tot vandag toe nie wie haar gekontak het nie en het geen kontaknommer gehad om later weer op te volg nie.
Danie het weens gesprekke tussen sy ‘ouers’ mettertyd besef dat hy aangeneem is en wou bitter graag met sy ma kontak maak, maar sy navrae het op niks uitgeloop nie.
Pine Lodge en Kansa los raaisel op
Toe Stella haar vriendin, Margie du Toit, om hulp nader, het dié op die internet gaan soek na ‘home george’ en by Pine Lodge uitgekom. Aan die anderkant van die lyn het Erica Valentyn die telefoon opgetel. Sy het Kansa gebel en is meegedeel dat hulle dalk kan help, want haar beskrywing van die seun klink vir hulle baie bekend. Sy is verwys na Emmaüs, wat met ‘n verwysing na Danie se ID-nommer kon bevestig dat Gilchrist en Danie inderdaad dieselfde persoon is. Danie is die laaste 20 jaar ‘n inwoner van Emmaüs.
Ma en seun is verlede Vrydag herenig tydens ‘n emosionele herontmoeting by Pine Lodge, waar Stella tuisgegaan het.
Daar is reeds verder beplan aan ‘n weeklange kuier in Uitenhage wanneer Danie vir Stella by haar huis gaan kuier.
Interessante feite
Beide Danie se biologiese ouers is dol oor motorfietse en het aan ‘n klub behoort. Hy self is ‘n motorfietsfanatikus.
Stella het al die jare by ‘n apteek gewerk, terwyl Danie vir jare aflewerings gedoen het vir sy aanneemouers se apteke. Hulle het verskeie apteke landswyd besit.
Artikel en foto: Michelle Pienaar