Laws is onlangs verkies tot voorsitter van die Eden Farm Dwellers Development Agency (EFDDA), ‘n nie-winsgewende organisasie gesetel in George.
Hy het Vrydag by die amptelike opnening van die EFDDA-streekkantoor in Shamrock Place in Yorkstraat gesê die agentskap wil ‘n daadwerklike verskil in plaasbewoners se lewens maak. "Ons het talle verteenwoordigers regoor die Tuinroete en Klein-Karoo en wil ‘n debat tussen EFDDA en georganiseerde landbou op die been bring. Plaasbewoners is van die armstes in die landelike gemeenskap en talle kinders op plase verlaat skool voor graad 8. Ons wil toesien dat alle kinders hoërskoolopleiding kry."
EFDDA fokus ook op mense wat van plase afgesit word. "Uitsettings en slegte lewens- en werksomstandighede kan lei tot plaasmoorde - die moorde is dikwels nie net rassisties of bloot krimineel van aard nie. Ons wil al hierdie sosiale euwels aan-spreek om vir almal in die landelike gemeenskap ‘n veiliger en beter lewe te verseker."
Die agentskap lei talle programme oor onder andere HIV/Vigs, fetale alkoholsindroom en dwelmmisbruik.
"Van 2011 af bied ons elke jaar twee lewensvaardigheidskole aan. Een in Junie vir graad 7’s wat die oorskakeling hoërskool toe moet maak en een vir graad 11’s op pad na matriek. Ons leer die ouers ook lewensvaardighede en hoe om hulle geldsake te bestuur."
Laws sê dit is baie belangrik om ‘n volledige databasis van plaasuitsettings te hê. "Op die oomblik het ons weinig statistieke. Om ‘n probleem aan te spreek moet ‘n mens die omvang daarvan ken."
EFDDA het ‘n plaasuitsettingsfonds gestig wat omsien na slagoffers se onmiddellike behoeftes. "Ons voorsien kospakkies, vervoer na die naaste familie en probeer verseker dat die persoon of persone nie die eerste aand onder die sterre hoef te slaap nie."
Die agentskap word ondersteun deur die Eden-distriksmunisipaliteit.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak EFDDA by 076 663 9533 of efdda.sc@gmail.com.
Artikel: Ilse Schoonraad
Foto: Michelle Pienaar
.jpg)
Ondersteuners van die plaasbewonersagentskap is van links Clive Pretorius (tesourier), Klasie Windvogel (ondervoorsitter), Rudi Laws (voorsitter), Anthony Ewerts (Eden-onderburgemeester en beskermheer) en Morné Hoogbaard (Eden se waarnemende munisipale bestuurder). In die middel is Liesel Scholtz (mense-regteprokureur), Sara Matroos (lid vir Haarlem) en Miranda Jansen (addisionele lid). Voor is Uniondale se lid, Martin Samuels.