GEORGE NUUS - Hy kon nooit lank op een plek bly nie. Vincent Potgieter (36) was te voet op pad na 'n plasie buite Robertson saam met 'n vriend toe albei op die McGregor-pad net buite Robertson noodlottig raakgery is.
Hierdie ongeluk het op 25 Julie, omstreeks 20:30 plaasgevind - net oor 'n maand ná 'n berig oor Potgieter se lewe op 20 Junie in die George Herald verskyn het.
In die artikel gesels Potgieter oor sy lewe as hawelose en tikverslaafde, as deel van 'n kort reeks oor mense wat op straat bly. Hy het familie op Mosselbaai, maar is dikwels in George se strate gesien. Sy drome om eendag trokke te bestuur en te besit, is egter in die wiele gery.
Navrae aan 'n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder het min duidelikheid opgelewer oor wat presies gebeur het. Sersant Noloyiso Rwexana het bevestig dat 'n saak van slagbare manslag ondersoek word. Rwexana wou nie die identiteit van die tweede slagoffer bekend maak nie.
Volgens Potgieter se ma, Christa Pieters, is daar aan haar verduidelik dat beide mans op slag dood is nadat hulle deur 'n polisieman van Robertson raakgery is. Hierdie inligting kon nie bevestig word nie.
"Vincent het nog die koerantberig in sy rugsak gehad. Dit is waarskynlik hoe hulle hom geïdentifiseer het," het sy gesê.
Pieters het tydens 'n onderhoud gesê sy wil graag geregtigheid vir haar seun hê. "Ek wil net weet wat presies gebeur het. Ons het buitelyne, maar ek het nie detail nie," het sy gesê.
Christa Pieters verlang na haar seun: "Ek soek net geregtigheid vir my Vince." Foto: Michelle Pienaar
Vince se naasbestaandes het sy lewe met 'n gedenkdiens op 14 Augustus in Mosselbaai gevier. Pieters beskryf hom as 'n kind wat 'n moeilike lewe gehad het, maar altyd met haar kontak behou het.
"My Vince het die mooiste glimlag gehad. Hy het nie altyd die regte besluite geneem nie, maar dit [die ongeluk] het hy nie verdien nie."
Die Breederivier Gazette het 'n week na die ongeluk oor die gebeure berig en dit as 'n "tref-en-trap-ongeluk" beskryf. Volgens dié berig was twee motors betrokke, waaronder 'n blou Toyota Yaris. Die motors was glo in teenoorgestelde rigtings onderweg toe die ongeluk plaasgevind het.
Vincent Potgieter en 'n vriend is op die McGregor-pad net buite Robertson noodlottig raakgery. Foto: Verskaf
Lees vorige artikels:
- Drome van trokke en are vol tik na meer as 'n dekade op straat
- Ontwerper met 'n matjie en trollie
- Vingeralleen met seer... en 'n 'fix'
- Voete in George en 'n hart in Worcester
- Strate vol 'verlore siele'
''Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'