Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hy slaap nou al vir langer as 'n dekade in George se strate.
Vincent Potgieter (36), oftewel Vince, "skarrel" (bedel) bedags vir 'n paar rand - 'n "blessing" (donasie) - sodat hy kan eet en twee keer per week tik in sy are kan spuit.
Hy is 'n oopgesig man met 'n warm persoonlikheid en sit nie lank stil op een plek nie.
Vince raak merkbaar emosioneel wanneer hy oor sy ouers in Mosselbaai gesels. "My pa wil niks met my te doen hê nie, want ek lyk soos hy, en ek is 'n tikkop. Hy het twee huise op die heuwels," het hy gesê. "My ma is lief vir my, sy gee vir my geld en ek kan skoon klere by haar werk gaan haal. Ek is 'n skoon hawelose, ek kyk na myself."
Vince en Lollie Wildeman is straatvriende wat na mekaar se welstand omsien. Op straat is dit noodsaaklik om te weet by wie jy jou moet skaar. Nie almal dra jou belange op die hart nie. "Ek pla nie mense nie, roof nie mense nie, ek moor nie. Ek doen dagwerkies, ek kan teëlwerk doen, ek kan trokke ry, ek kan front-end digger loader ry."
Vince het op straat beland nadat hy in standerd agt skool verlaat het en aan tik verslaaf geraak het. Hy spuit dit in sy are, elke vierde of vyfde dag. Volgens Vince was hy nog nooit by 'n rehabilitasiesentrum nie. Snags slaap hy voor die polisiestasie en baie ander plekke. Vince het drome, hy wil eendag sy eie trokke besit. Hy is lief vir rondry. Sy raad aan mense: "Bly weg van dwelms."
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'