Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As honde kon praat, sou hulle duisend keer dankie gesê het want die jong diereliefhebber van George, Luhan Smit, het vandag 2 Januarie 2,3 ton hondekos by Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) in Blanco, afgelewer. Hy het ook R5000 kontant en katkos aan die dierewelsyninstansie oorhandig.
Luhan het die kos en geld van 8 Desember tot 30 Desember ingesamel wanneer mense saans na die Kersfeesliggies by hul hul huis en ander huise in Ribbokstraat gaan kyk het.
FOTOGALERY: Luhan Smit samel 2,3 ton hondekos in
Sy mikpunt was twee ton. Sy jongste poging is 900 kg meer as verlede jaar. Hy doen dit al die afgelope paar jaar. Luhan het 'n groot omgee hart en help graag diere in nood.
'n Rukkie na 10:00 vanoggend het 'n groot vragmotor van J&B Auto Spares & towing services die kos afgelewer by Odin.
Luhan het nie op hom laat wag nie en van die werkers gehelp om die kos af te laai.
Hy het gesê hy doen dit graag. "Ek probeer al hoe meer ander mense inspireer om dit ook te doen."
Lukan het al klaar planne vir Desember 2024 wanneer hy dit weer wil doen. Sy mikpunt is dan om vier ton in te samel. Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat gehelp het.
Sy ma, Belinda het gesê sy en haar man Kobus is trots op hom en hulle ondersteun hom. "Mens kan hieruit leer dat 'n kind ook 'n verskil kan maak. Ouers moet hul kinders van kleinsaf leer dit is beter om te gee as om te ontvang en dat hulle betrokke moet raak in die gemeenskap."
Marlene Mennie van Odin het gesê dit beteken baie vir die organisasie.
"Nou het ons minstens vir Januarie kos vir die honde. Ons is trots op hom. Luhan stel 'n voorbeeld vir ander kinders."
VIDEO - Die hondekos word 2 Januarie by Odin afgelaai. Video:Eugene Gunning
Kyk al die hondekos. Luhan Smit by die hondekos wat hy ingesamel het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’