Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As jy self wil sien hoekom Italiaanse motors wêreldwyd so gewild is, moet jy nie aanstaande jaar se George-oumotorskou misloop nie. Name soos Ferrari, Fiat, Maserati en Lamborghini het oor die jare al sinoniem geword met die motorwêreld.
Besonderhede oor die skou is verlede Donderdag, 10 November, by die Protea Hotel King George bekendgemaak. Die skou vind op 11 en 12 Februarie op by Eden HTS plaas.
Dit sal die 26ste keer wees dat die skou plaasvind.
Die verwelkoming tydens die geleentheid is heel gepas in Italiaans deur René Scribante gedoen.
Die geleentheid is deur verskeie belanghebbendes, waaronder George-burgemeester, Leon van Wyk, bygewoon.
Groot belangstelling bestaan reeds vir die skou, want dit sal die eerste keer wees dat die skou in gewone omstandighede na Covid-19 kan plaasvind.
Alewijn Dippenaar, een van die organiseerders aan die woord tydens die bekendstelling. Links is Leon van Wyk, George se burgemeester.
Met vanjaar se skou was daar beperkings op toeskouergetalle as gevolg van Covid-regulasies, maar vir aanstaande jaar se skou is dit nie meer van toepassing nie.
Ofskoon die tema vir 2023 se skou Italiaans is, sal daar ook ander fabrikate, motorfietse, ou trekkers en modelvoertuie te sien wees.
Dr. Waldo Scribante, voorsitter van die Suid-Kaap-oumotorklub, het gesê die skou is die eerste keer in 1997 aangebied. Destyds was daar 80 motors. Oor die jare het die skou gegroei en vanjaar was daar meer as 1 000 uitstallers.
Van Wyk het gesê die skou is 'n groot ekonomiese inspuiting vir George en dit het 'n vermenigvuldigingseffek. So byvoorbeeld betaal mense vir verblyf. Mense kry werk daaruit en daar is ook bykomende dienste wat voorsien word.
VIDEO: George-oumotorskou in Februarie 2022
Dis baie belangrik om te kyk hoe die ekonomie na Covid weer reggekry kan word in terme van toerisme.
Gedurende Covid het toerisme daaronder gelei. So byvoorbeeld was daar nie buitelandse toeriste nie. Die toerismeketting het stilgestaan.
George-burgemeester, Leon van Wyk, wys op die belangrikheid van die skou.
Van Wyk het gesê elke byeenkoms wat aangebied word help om die ekonomie weer aan die gang te kry. Sy wens is dat daar elke naweek 'n geleentheid in George sal wees om die ekonomie weer aan die gang te kry.
Hy het dit verwelkom dat die geleentheid aangebied word en hy het die organiseerders bedank vir hul rol. Volgens hom het die skou begin as 'n stokperdjie en nou is dit deel van die ekonomie.
Alewijn Dippenaar, een van die organi-seerders, het gesê Italianers is passievolle mense. Mens sien dit in die ontwerp van hul motors. Hy het 'n idee gegee van al die harde werk wat dit verg om so 'n skou te organiseer.
Tussen 60 en 70 mense is vooraf by die reëlings betrokke en op die dae van die skou selfs meer.
Leon van Wyk, George se burgemeester, by van die ou motors tydens die bekendstellingsgeleentheid. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'