GEORGE NUUS - Die uiltjies wat gedurende inperking in die kerktoring van die Blanco-gemeente uitgebroei het, is die inspirasie agter drie verskillende wyne van Herold Wines wat nou onder die naam Kerkuil gebottel word.
Die wyne is beskikbaar vir 'n donasie van R100 per bottel. Daar is 'n witwyn (Herold Wines Roussanne / Grenache / Verdehlo), rooiwyn (Herold Wines Red Blend) en 'n rosé (Herold Wines Pinot Noir Rosé).
Ds. Francois Mulder, 'n gemeenteleraar, sê hulle is baie opgewonde. Hy beskou homself as die peetpa van die jong uile, wat almal reeds die nes verlaat het.
Sy wederhelf, Karina Mulder, se uil-waterverfskilderye pryk op die etikette van die wyn. Post@George druk die etikette, wat deur Roshai Mulder ontwerp is. "Herold Wines voorsien die wyn vir die projek en die gemeente die naam, plakkers en storie. Afhangende van hoe die bestellings loop, kan dit 'n permanente projek word," sê Mulder.
"Die gemeente-organiseerders van die projek koop die wyn by Herold Wines. Gemeentelede bestel by die gemeente en gee dan 'n donasie, daar is dus nie 'n kooptransaksie nie."
Mulder het die nes met ses eiers op Paassondag in die kerktoring ontdek. Hy het daarna op 'n weeklikse basis die gemeente en gemeenskap deur middel van George Herald op hoogte gehou van die uiltjies se vordering, van die dag toe vyf uitgebroei het.
Die uile is op 31 Mei na 'n uilboks in 'n boom op die kerkterrein verskuif vanwaar hulle die nes een vir een verlaat het. Die laaste jong uil het sy vlerke op 19 Julie gesprei, drie maande ná die ontdekking van die nes. Gemeentelede het die uilfamilie 'Churchowl' gedoop en elkeen het 'n naam gekry: Pa Bells en Ma Hedwig Churchowl, en hul kroos, Winston Churchowl, Bellatrix, Titus, Pinky en Albus.
Verwante artikels: