GEORGE NUUS - Mediclinic George se bestuurder, Kassie Karstens, het die publiek gemaan om verantwoordelik op te tree om te help om die verspreiding van Covid-19 te verhoed. "Dit wil voorkom of hierdie golf groter is as die vorige een, en dit gaan regtig rof.
"Ons intensiewesorgeenheid is op vol kapasiteit. Ons het besoektye gestop, en die laaste twee dae weer sale omgeruil om plek te maak vir nog Covid-pasiënte. Ons het ook teaterlyste afgeskaal weens beperkte beddens."
Hy het die publiek bedank vir hul boodskappe van bemoediging.
Nadia Ferreira, distrikswoordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het by navraag gesê alhoewel daar 'n toename is in Covid-19-opnames in distrikshospitale, is hulle nie tans onder druk nie.
"George-hospitaal toon wel 'n groter toename en het op 29 Junie 29 pasiënte gehad waarvan 10 in die hoësorgeenheid is. 'n Maand gelede was daar 11 Covid-19-pasiënte."
107% meer sterftes
Die aantal sterftes het met 107% gestyg. Daar was 27 Covid-sterftes in die sewe dae tot en met Dinsdag 29 Junie vergeleke met 13 die vorige week.
Die Tuinroete het tot en met 13:00 Dinsdag 29 Junie, 2 213 aktiewe gevalle gehad (George 891, Mosselbaai 748, Knysna 204, Hessequa 121, Oudtshoorn 120, Bitou 99 en Kannaland 30). (Die vorige week was daar 1 449 aktiewe gevalle.)
Tuinroete kry meer entstowwe
Die Tuinroete het vir hierdie week 'n groter besending entstowwe ontvang - 7 948 dosisse bykomend tot die oorspronklike 12 157.
Zee Brickles, distrikshoof van gesondheid, het dit verwelkom en gesê dit is beduidend meer as die besending vir die voorafgaande twee weke. Dit sal help om die stadige tempo van inenting, wat veroorsaak word deur die tekort in voorraad van die Nasionale Regering, aan te spreek.
"Ons verstaan die frustrasie en angs van mense wat ingeënt wil word, veral met die toename in Covid-19-gevalle in ons distrik, maar meer afsprake sal nou gemaak kan word."
George se inentingspersele is tans by die Harry Comay TB-hospitaal, Thembalethu CDC (Sandkraalweg), George-sentraal kliniek, Uniondale-hospitaal, Touwsranten-kliniek (slegs op 2 Julie) en Pacaltsdorp-kliniek (1 en 2 Julie).
Brickles het gevra dat mense hulle sosiale interaksie beperk tot onmiddellike familie (wat saam in een huishouding woon) om hul infeksierisiko en verspreiding van die virus te verminder.
Geen telefoniese afsprake vir inenting by Geneva
Karstens sê by die Mediclinic Geneva-inentingperseel word min inentings hierdie week gedoen. "Ons ontvang egter volgende Dinsdag 'n groot besending en sal dan vir vier weke reg wees en meer as 1 100 per week toedien."
Hy het gesê mense kan nie net instap en ingeënt word nie. "Ons het wel lyste by die deur by Geneva waarop mense 'n afspraak vir die volgende week kan maak. Dit kan ongelukkig nie telefonies gedoen word nie, want dan is daar verwarring en persone kan maklik dubbelafsprake maak.
"Ons telefoonlyne is oorval met honderde oproepe per dag waar mense afsprake wil maak. Dit neem ongelooflik baie van ons tyd in beslag. Die ideaal is dat mense maar vir die department se SMS wag, maar indien dit nie kom nie, moet hulle ons asseblief nie bel nie. Baie mense moet binnekort vir hulle tweede dosis terugkom, wat dit vir ons onmoontlik maak om die heeltyd nuwe afsprake te maak."
Onderwysers ook in vakansie ingeënt
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement se woordvoerder, Bronagh Hammond,
het gesê ongeveer 1 500 onderwysers is tot en met Dinsdag 29 Junie in die distrik ingeënt. Die persentasie wat dit uitmaak van die totale aantal onderwysers is nog nie bepaal nie.
Inenting sal gedurende die vakansie voortduur by agt persele wat spesifiek vir onderwysers ingerig is.
Joernaliste is volgende om ingeënt te word.
Lees hier alles oor die nuwe inperkingsmaatreëls wat geld tot minstens 11 Julie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'