GEORGE NUUS - 'n Kapenaar, wat ook eiendom in George besit, het sy skok oor George se tariewe uitgespreek.
Die huiseienaar, wat verkies om anoniem te bly, is van mening dat munisipale dienste in George hom twee keer soveel kos as dié vir sy plek in Durbanville, wat bykans dubbel in waarde is.
"Hoe is dit moontlik dat ek so baie moet betaal vir dienste soos riool, vullisverwydering, water en ligte, terwyl ek slegs twee maande van 'n jaar hier vakansie hou?" vra die huiseienaar. "Dit is rof hier in George."
Henry Mitchell, adjunk-direkteur finansies, het by navraag gesê munisipaliteite se begrotings en tariewe gaan nooit dieselfde wees nie, omdat hul behoeftes en koste om dienste te lewer gaan verskil.
"Volgens die MFMA (Municipal Finance Management Act) moet al die koste om 'n diens te lewer deur die tariewe verhaal word. George-munisipaliteit moet byvoorbeeld hul vullis teen 'n hoë koste na die stortingsterrein op Mosselbaai vervoer en daardie koste moet ook verhaal word," het Mitchell gesê.
"Die heffing vir water is die basiese fooi plus belasting wat gehef word. Verbruikers se eerste 6 kl water is gratis, so die verbruiker verloor hierdie voordeel omdat hy nie hier woon nie. Mosselbaai-munisipaliteit se basiese fooi vir water is R191,77 (met BTW ingesluit) sonder enige waterverbruik."
Mitchell het gesê die waardasie van die eiendom het 'n invloed op die eiendomsbelasting en word beïnvloed deur die ontwikkeling van die owerheid.
"Kaapstad hef 'n basiese fooi vir hul riool en die verdere heffing van riool word aan hul waterverbruik gekoppel. Die tariewe wat George-munisipaliteit hef word in terme van die relevante regulasies en die MFMA gedoen. Ons tariewe is ook min of meer in lyn met die tariewe wat Mosselbaai-munisipaliteit hef," het Mitchell gesê.
"George-munisipaliteit se finansiële posisie is gesond, maar ons kan nie surplusfondse gebruik om dienste te subsidieer nie."
* George word tans nie as 'n metro geklassifiseer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'