GEORGE NUUS - Kuns in al sy vorms is maar net mooi, maar Jackie Chantler vat dit 'n stap verder. Haar agtergrond in ontwerp het gehelp dat sy die mooiste kunswerke op skedels van wild en beeste doen.
Die ma van twee sê toe hulle in Pretoria gewoon het, het sy 'n klomp skedels in haar huis gehad. "My pa het dit altyd van die plaas af saamgebring. Op 'n stadium het daar 'n klomp beeste gevrek en die skedels het net daar rondgelê." Sy vertel sy het die skoon skedels in haar huis opgehang en almal wou van dit hê. "Mense het my toe begin vra vir van dit, maar ek wou nie gee nie want ek het net ses gehad."
Sy het later van haar skedels as geskenke begin weggee. Een is verlede jaar spesiaal vir haar seuntjie se juffrou as geskenk gegee, en daar het die aanvraag begin.
Jackie het toe aan die begin van 2019 besluit sy gaan sakevrou word en dinge het van daar af gegroei. "Daar is soort van iets spesiaal aan dit. Dis lelik, maar hoe langer jy na dit kyk hoe mooier raak dit."
Jackie sê sy het respek vir die skedels, want dit was 'n lewendige dier, met oë en tande en dis hoekom sy voel sy bou 'n verhouding daarmee. "As ek klaar is, ken ek dit inside out, want ek spandeer ure met een skedel."
Jackie vertel hoe sy op haar beste in die nag werk, en het 'n boekie waar sy al haar idees neerskryf en kreatiewe idees teken.
Jackie besig om aan een van haar skedels te werk. Foto's: Jonah Ehlers
Daar is ook 'n proses waardeur die skedels gaan, tot 'n veearts kyk daarna om goedkeuringsdokumente te gee. Omdat sy ook 'n groot oorsese mark het, moet Jackie seker maak dat alles in orde is en die skedels reg skoongemaak is en elke luis en insek wat in die beendere en horings is, dood is.
"Dit vat so drie maande om dit professioneel skoon te maak en droog te kry. Ek het ook 'n permit vir die uitvoer van wildskedels."
Maar sonder om al haar geheime uit te laat, vertel Jackie hoe sy 'n skedel 'n kleur sal spuit of natuurlik los, en dan haar ontwerp daarop sal verf. Sy gebruik ook krale en klippies as deel van haar ontwerpe, en as 'n kliënt iets spesiaal wil hê sal sy dit ook doen. Sy het ook verskillende groottes en elke skedel is uniek en spesiaal vir Jackie.
Jackie Chantler Foto: Salette Cloete
Besoek haar Facebook-blad Kop, of www.koppe.co.za, sy kan ook gekontak word by 076 689 2427.
Van die menigte skedels wat buite in haar tuin lê. Foto: Jonah Ehlers
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'