Gallery
GEORGE NUUS - "Ek voel weer soos 'n mens." Só het Marcus Windt, 'n inwoner van George, Maandag vertel. Hy was Saterdag een van die eerste mense in George om sy hare te laat sny.
Nadat haarsalonne en haarkappers se deure vir byna drie maande gesluit was, kon hulle dit weer Saterdag onder streng voorwaardes oopmaak.
Windt was al 07:00 voor die deur van die haarkapper in Yorkstraat en eerste in die ry. Hy het ook sy baard laat knip.
"Dis 'n verligting en ek voel weer netjies," het hy vertel. Gewoonlik laat hy sy hare minstens een keer per maand sny. Voor Saterdag, het hy einde Februarie laas sy hare laat sny.
Volgens Marcus wou sy kollegas Maandag by die werk weet waar is die ou Marcus. "Hulle het my gekomplimenteer met my korter hare en baard."
Eienaars en verteenwoordigers van haarsalonne was dit eens in gesprekke met die George Herald dat die nuwe situasie nuwe uitdagings verg, maar hulle is verheug is om weer sake te kan doen.
Ismail Ghezali, eienaar van The Garden Route Barber Shop in Yorkstraat, het gesê sedert hulle weer hul deure oopgemaak het, is dit baie besig. "Saterdag op die eerste dag het dit mal gegaan en dit was baie besig. Almal het saamgewerk. Mense was baie bly om ons weer te sien."
Fotogalery: Haarsalonne weer oop - hiep hoora!
Volgens hom is die nuwe omstandighede 'n uitdaging. Hy het aanvanklik nie geweet hulle sou al Saterdag kon oopmaak nie. Hy het eers Vrydagaand daarvan gehoor en inderhaas planne gemaak.
Marcus Windt nadat sy hare gesny en sy baard gekip is. By hom staan Gideon Brits wat dit gedoen het.
Carly Adams, eienaar van Le-Chic by Carly in George se stadskern, het gesê die salon is die afgelope naweek skoon gemaak en het Maandagoggend die eerste keer in byna drie maande weer sy deure oopgemaak. "Dit was moeilike tye en daar was finansiële druk."
“Die nuwe omstandighede is 'n groot aanpassing, maar ons sal daardeur kom," het sy bygevoeg. "Die dames is baie opgewonde en wil weer hul hare mooi laat lyk."
Shannon du Toit, een van die eienaars van Inferno Hair Sudio, het gesê hulle is besig om al die protokolle in plek te kry en is van voorneme om nog die week te open. Hul salon in Gauteng het Maandag reeds weer geopen.
Sy het benadruk dat klante en personeel veilig moet wees. Die nuwe omstandighede is nie maklik nie. Du Toit is al 40 haar in die bedryf en dis eerste keer dat sy so iets beleef. Dis egter nie vreemd vir hulle nie. "Ons bedryf al jare 'n higiëniese salon."
Volgens haar was die afgelope byna drie maande moeilik en daar was geen inkomste nie. Hulle is opgewonde oor die toekoms. "Ons sê dankie vir die Here dat Hy ons hierdeur getrek het."
Klante Saterdag by The Garden Route Barber Shop in Yorkstraat. Foto: Eugene Gunning
Bradley Salmons, eienaar van Barbers Unlimited, het gesê die nuwe vereistes stel groot uitdagings. Almal moet net geduldig wees. Mense het begrip vir die situasie en besef dit is in almal se belang ter wille van veiligheid.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, wat ook Maandag sy hare laat sny het, het gesê dit was 'n ander ervaring as gewoonlik. Veral opvallend was die hoë standaarde wat gehandhaaf is.
Hairdressing salons and men's barber shops were overrun with customers on Saturday 20 June, the day they were allowed to reopen. Despite the hard work and extra sanitary precautions that had to be taken, there was widespread relief to be able to start generating an income again.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'