Sterkte vir die nuwe skooljaar
So het die eerste skooldag vir 2018 aangebreek en duisende graadeentjies het gister ook op skole in George toegesak.
Ek hoop julle eerste dag was opwindend en dat julle vanjaar by julle onderskeie skole sal geniet.
Daar was vanjaar, soos al die jare vantevore, by van die skole weer laatinskrywings.
Nie die laat in die opsig van ouers wat onlangs hierheen getrek het of onvoorsiene omstandighede wat die situasie veroorsaak het nie.
Nee, ouers wat tot op nommer 99 wag voor hulle hul kinders by 'n skool inskryf.
Ek kry hierdie kinders so jammer, want alle kinders sien uit na 'n onvergeetlike eerste skooldag. (Hier en daar huil van die kleintjies, maar die meeste is opgewonde.)
Al die ander graadeentjies gaan na hul klasse, maar hier staan jy in die skool se voorportaal en weet nie of jy 'n plekkie gaan kry nie.
Ons oorvol skole is ook 'n probleem want daar is nie genoeg skole vir die hoeveelheid leerders nie, maar dis 'n gesprek vir 'n ander dag.
Aan alle graadeentjies se ouers, voorspoed en sterkte. Mens voel soms jy is weer terug op die skoolbanke wanneer jy moet help met huiswerk, maar jy leer saam met jou kinders weer nuwe dinge. Ondersteun hulle, help hulle en jy sal die vrugte daarvan pluk. Die kinders het deesdae baie takies om te verrig. Huiswerk en hersiening van die dag se werk is daar altyd en hulle kan gou agter raak.
Kweek vroeg die gewoonte by hulle om elke dag huiswerk te doen.
En laaste maar nie die minste nie, aan ons opvoeders: Julle het seker die belangrikste taak op hande, veral die grondslagfase-onderwysers. Kleintjies kom nou van 'n lang skoolvakansie af en moet baie nuwe dinge en reëls leer. Ongeslypte, rowwe diamante. Ek weet ook daar is talle uitdagings wat julle op 'n daagliks basis die hoof moet bied. Julle kry nie altyd die respek of ondersteuning van ouers wat self nie weet hoe om hulle kinders te dissiplineer nie, en dan nog kans sien om jou by die skool voor hul kinders sleg te sê nie. Ja dit gebeur! Sulke ouers was daar lank voor julle begin het, en sal daar wees lank ná julle uit die onderwys tree.
Ouers en onderwysers moet saam werk, julle is nie vyande nie.
Om 'n opvoerder te wees, is 'n groot voorreg. Julle is die superwesens wat 30, 40 of soms meer kinders op dieselfde tyd moet hanteer, opvoed en leer.
Dit vat 'n spesiale mens om dit reg te kry. Vra maar vir baie ouers hoe voel hulle na 'n verjaarsdagpartytjie waar so 'n jong klomp bymekaar is. Julle help vorm ons leiers van môre, en wanneer daardie kinders ontwikkel en groei tot pragtige jong mense, is die beloning groter as daardie maandelikse salaristjek wat jy trek.
Lizette da Silva is die redakteur van die George Herald.