GEORGE NUUS - Die passie waarmee Heyneke Meyer sukses as afrigter van die Springbokke gehad het, gebruik hy nou in die vestiging van 'n nuwe sport- en leefstylfees.
Die datums van die fees, wat as die George Tens Sport & Lifestyle Festival bekendstaan, is Donderdag 23 September tydens die amptelike bekendstelling bevestig.
Dit sal van 2 tot 5 Desember op Outeniquapark en omliggende gebiede aangebied word en daar word gehoop dat dit een van die grootste sportfeeste in George se geskiedenis sal word.
Die bekendstellingsgeleentheid is bygewoon deur onder meer Meyer, Ig van der Merwe, een van die dryfkragte agter die geleentheid, Wynie Strydom, een van die organiseerders, Leon van Wyk, George-burgemeester, Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste en verteenwoordigers van borgmaatskappye. Die George-munisipaliteit is betrokke by die geleentheid.
Meyer het gesê hy glo die geleentheid sal groei. Daar is verskeie dinge in George se guns. George het byvoorbeeld een van die mooiste rugbyvelde en die berge. Hy glo aan groot droom en dat enigiets moontlik is. Saam met al die belanghebbendes kan iets spesiaal gevestig word.
Hy is optimisties dat dit uiteindelik wel sal voortgaan en suksesvol sal wees.
Meyer het die George-munisipaliteit en al die borge bedank vir hul betrokkenheid. Sonder hulle sal die geleentheid nie aangebied kan word nie.
Oor Covid-19 het Meyer gesê: "Mense se gesondheid is die heel belangrikste en Covid-19-protokolle sal gevolg word. Dis belangrik dat die geleentheid voortgaan. Mense moet hoop gegee word. Sonder hoop kan mense nie lewe nie."
Van Wyk het gesê hy sien uit na die geleentheid. Dis belangrik om weer 'n sport- en leefstylgeleentheid aan die gang te kry.
"Ons groot doelwit is om weer te kyk na toerisme in George." Die doelwit moet wees om 'n geleentheid elke week van die jaar aan te bied. As sulke geleenthede aangebied word sal die ekonomie groei want meer mense sal die gebied besoek. Die beplande geleentheid is 'n uitstekende voorbeeld hoe dit uitgebrei kan word.
Van die sportsoorte wat aandag sal kry sluit in rugby (mans en vroue), veldwedlope (trail running), bergfietsry, gholf, netbal en rolbal.
The official dates for the George Tens Sport & Lifestyle festival have been announced. Presented in collaboration with the George Municipality, the festival will take place at Outeniqua Park and surrounds from 2 to 5 December. The event will include men's and women's rugby, trail running, mountain biking, golf, netball and lawn bowls.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'