GEORGE NUUS - Ria van der Westhuizen, 'n vrou wat grotendeels van kanker genees is, bring met handdoeke glimlagte op mense se gesigte.
Dit is 'n lang persoonlike pad wat sy met kanker en die handdoek-projek, Snuffels, loop. Dié projek het sy in Lyndenburg, Mpumalanga, begin en wil dit nou hier in die Suid-Kaap laat herleef.
Sy beskryf dit as 'n liefdesdaad en het al soveel vreugde daarmee verskaf. Op die oomblik is sy 'n inwoner van Danabaai, nadat sy en haar man Lydenburg vir die Suid-Kaap verruil het.
Kanker is 'n paar jaar gelede by haar gediagnoseer en nadat sy grotendeels genees is, het sy vir die Here gesê sy wil dankie sê en iets terugploeg. In 'n stadium het sy 'n damesgeleentheid in Lydenburg bygewoon en daar het alles begin.
Een van die sprekers het oor handdoeke gepraat. Daar was ook kinders van 'n skool vir gestremdes by dié geleentheid en sy het dadelik besef dit is hoe sy haar dankie gaan uitleef en kontak met die skool gemaak.
Dit het toe geblyk dat die nood vir handdoeke groot was. Van der Westhuizen het handdoeke gekoop en die kinders se name daarop laat borduur. Sowat 100 handdoeke is uitgedeel.
Kort daarna het sy en haar man na die Suid-Kaap verhuis. Van die ongeborduurde handdoeke, wat nie voorheen uitgedeel is nie, het saamgekom.
Tydens 'n besoek aan 'n mark in Hartenbos het sy verteenwoordigers van die Mond-en Voetskilders raakgeloop. Sy het hulle later gekontak en gereël dat elkeen van die kunstenaars 'n persoonlik geborduurde handdoek kry.
Die vreugde en dankbaarheid wat sy beleef het met die oorhandiging het haar geïnspireer om die projek hier in die Suid-Kaap te laat herleef.
Patrick Botto, een van die organisasie se 27 gestremde skilders, het Dinsdag gesê hulle is baie dankbaar vir die handdoeke.
"Die feit dat Ria die ekstra myl geloop het en ons name daarop gesit het, maak dit ekstra spesiaal. Ek dink dit is 'n goeie idee om die projek hier voort te sit. Dit sal baie mense help."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'