GEORGE NUUS - Die derde geslag slagter van Watsons-slaghuis op George, Ossie Watson (82), het op 28 Desember by sy huis aan nierversaking gesterf.
Ossie Watson was wel bekend in die boeregemeenskap vir sy betrokkenheid by vleisveilings. Hy het op verskeie komitees gedien, soos die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO), die Plattelandse Slagtersvereniging en verskeie boereverenigings.
Sy oudste seun en eienaar van Watsons-slaghuis, Kobus Watson, beskryf sy pa as iemand wat graag sy vrye tyd op die plaas in Outeniqualand, langs George-lughawe spandeer het. “Hy was baie lief vir rugby en het graag gelees – veral oor geskiedkundige gebeure,” het Kobus Watson gesê.
“Pa was hardwerkend, ‘n sterk, streng man met integriteit. Sy oupa – my oupagrootjie – het Watson-slaghuis hier begin. Pa het nog gewerk tot twee dae voor sy dood. Hy het die laaste 20-jaar die familie se geboue bestuur. Die aand voor sy dood het hy self na Heroldsbaai bestuur om saam met ons tyd te spandeer.”
Ossie Watson word oorleef deur sy vrou, Christa, sy drie seuns, en agt
kleinkinders.
Die familie beplan om op ‘n latere stadium ‘n roudiens te hou, weens moontlike gevare wat die huidige Covid-19 pandemie inhou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'