Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Geweld teen vroue en kinders het die afgelope paar maande tydens die grendeltyd beslis toegeneem. Só sê Jaydene Payler, 'n finale jaar student in maatskaplike werk aan die Noordwes-universiteit, wat op die oomblik as deel van haar praktiese opleiding by Phambili uithelp.
Dit is 'n instansie in Rosemoor wat as 'n veilige hawe dien vir mishandelde vroue en kinders.
Sy doen 'n beroep op mense om die openbare veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders te ondersteun. Die veldtog het gister, Woensdag 25 November, begin en duur tot 10 Desember.
Payler het benadruk sy lewer nie kritiek oor die inperkingstappe nie. Volgens haar stel die Covid-19 pandemie en die gepaardgaande inperkings, wel groot uitdagings. Dit gaan nou bietjie beter nadat die inperkingstappe verslap is.
Die inname van mense die afgelope maande was minder as gewoonlik. Hulle kon nie sommer mense van die straat help as gevolg van die streng protokolle wat gevolg moet word. Van die vroue moes aanvanklik eers vir twee weke in isolasie bly by die ACVV in Dysselsdorp. Intussen het hulle hul eie isolasie geriewe ingerig.
Kyk 'n video hieronder:
Omdat mense in die grendeltyd fisies tot 'n bepaalde ruimte beperk is, gebeur dit dat hulle soms deur hul eggenoot of saamleefmaat mishandel word. Dit is fisies en emosioneel.
"Dit wat ek hier in my werk beleef het, is skokkend."
Daar is gewoonlik rooiligte en tekens waarvoor mense op die uitkyk moet wees. "Dit begin gewoonlik eers emosioneel en daarna word dit fisies."
Dit is byvoorbeeld jaloesie in 'n verhouding, die een lewensmaat probeer die ander een isoleer van haar/sy familie en vriende, en alkohol en dwelmisbruik.
As die rooi ligte begin flikker, moet jy so gou moontlik hulp kry.
Nieteenstaande die negatiwiteit rondom sulke voorvalle moet mense nie moed verloor nie. "Daar is lig in die tonnel. Daar is voorbeelde van mense wat herstel en goed aanpas."
Mense wat meer inligting benodig kan 044 875 1551 bel.
Jaydene Payler, 'n finale jaar student in maatskaplike werk aan die Noordwes-Universiteit, wat op die oomblik as deel van haar praktiese opleiding by Phambili in Rosemoor uithelp. Foto: Eugene Gunning
Phambili tans
Phambili is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie (NPO). Op die oomblik is daar vier ma's en agt kinders. Dames moet tussen die ouderdom van 18 en 55 jaar wees. Kinders word saam met hul ma's toegelaat behalwe seuns van 12 jaar en ouer. Gewoonlik bly die vroue vir drie maande en in uitsonderlike gevalle soms bietjie langer.
Die vroue ontvang professionele berading, hulle word vaardighede geleer sodat hulle moontlik later 'n eie inkomste kan verdien en daar word gebou aan 'n goeie selfbeeld en selfvertroue.
The abuse of women and children has definitely increased over the past few months during the lockdown time, according to Jayden Payler, a final year student in social work who is doing practical training at Phambili shelter for battered women and children in Rosemoor. Payler asks people to support the 16 Days of Activism against gender-based violence.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'