GEORGE NUUS - Plaaslike videograaf, Wessel van Heerden, wat reeds verskeie toekennings vir kortfilms ingepalm en géén vreemdeling vir die plaaslike filmindustrie is nie, werk hand aan hand met die bekende skrywer, Cedrick Africa, om 'n splinternuwe film, Skoolboelie, eersdaags te laat verskyn.
Van Heerden het die film opgeneem en redigeer dit ook.
"Ek glo in die storie. Dit het my geweldig geraak en ek hoop dat dit 'n verskil in iemand se lewe kan maak. Ek glo dit is 'n boodskap wat by mense moet uitkom. Hierdie film is sonder finansies en met vrywilligers aanmekaargesit, maar hier is beslis nog groot talent wat uit hierdie produksie na vore sal kom.
"Ons hoop dat die film, Skoolboelie, nog deur baie mense raakgesien sal word en die droom is dat dit nog op TV of op 'n ander platvorm uitgesaai sal word."
Die film, van sowat 'n uur lank, is in Oudtshoorn geskiet en die akteurs kom almal uit dié omgewing.
Africa, wat binnekort sy derde boek op die rakke gaan hê, sê die film is 'n kortverhaal uit sy nuutste boek.
"Terwyl ek aan die storie gewerk het, het ek gesien dat daar soveel meer potensiaal in die storie steek. Dit is so relevant tot vandag. Ek het toe besluit om 'n kortflim daarvan te maak."
Plaaslike videograaf Wessel van Heerden, het die film opgeneem en redigeer dit ook.
Die storie
Skoolboelie handel oor 'n 14-jarige seun wat by die skool geboelie word. Hy het teen sy sin saam met sy ma en pa uit die Groot-Karoo na Oudtshoorn verhuis.
Hy is egter te bang om sy ma daarvan te vertel omdat sy baie siek is. Die boelie kom self uit 'n baie moeilike huishouding waar die pa aan skomfaan verslaaf is.
Die hoofrol van Shani Moos word deur die 14-jarige Thato Mbambe vertolk. Sy pa, Herrie, word deur Leach van der Westhuizen gespeel en sy ma, Lisa, se rol word deur Zelda Arries gespeel. Die rol van die boelie, Ou-Jan Januarie, word deur Jumain Bruintjies vertolk. Africa speel die rol van die boelie se pa, Jaffie, en sy vrou Sherom, die rol van die boelie se ma, Ma Trein, Sherom,
Africa sê wat vir hom lekker is, is hoe gemaklik die akteurs in die rolle inpas.
"Ek het nie die mense se agtergrond geken toe ek die rolle verdeel het nie. Hoe meer ons mekaar leer ken, hoe meer het ons agtergekom hoe baie hulle met hul karakters in gemeen het," sê hy.
Die idee is om die film aan die Silwerskermfees, kykNET, Netflix en Showmax voor te lê, en om 'n veldtog by skole oor boelies te doen en dit daar te gebruik.
Van Heerden (met kamera) saam met akteurs tydens verfilming in Oudtshoorn.
Première
Die première van die film is Vrydag 16 September om 18:00 in die Toekomsrus-gemeenskapsaal in Oudtshoorn.
Kaartjies kos R80 en kan by Cedric Africa by 083 343 1579, Wessel van Heerden by 083 281 8384 of Yvonne Thomas by 082 942 0437, bespreek word.
Van Heerden (links) saam met akteurs op die stel tydens verfilming.
Cedric Africa hard aan die werk met sy nuwe film.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'