GEORGE NUUS - Geïntegreerde beplanning is ‘n benadering wat die munisipaliteit en sy inwoners volg om te soek na oplossings vir die langtermyn ontwikkeling van ‘n munisipale area.
‘n Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) is ‘n super plan vir ‘n munisipale area wat ‘n raamwerk daarstel vir ontwikkeling. Dit het ten doel koördinering van alle vlakke van regering om ‘n samehorige plan daar te stel om die lewensgehalte van mense in die area te verbeter.
Die plan moet kyk na ekonomiese en sosiale ontwikkeling vir ‘n spesifieke gebied en moet ‘n raamwerk daarstel vir die gebruik van grond vir infrastruktuur, dienste en die beskerming van die omgewing.
Alle munisipaliteite word deur die grondwet verplig om ‘n GOP op te stel.
Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die koördinering van die GOP en moet alle belangegroepe betrek om die plan saam te stel. Sodra die GOP opgestel is, moet alle planne en projekte in terme van die plan geskied en die jaarlikse munisipale begroting moet op die plan gebaseer wees.
Ander regeringsdepartemente in die gebied word genoop om die GOP in ag te neem wanneer hulle hul eie planne opstel.
Wat verstaan ons onder die konsep Geïntegreerde Ontwikkelingsplan
- Die GOP word in terme van die Munisipale Stelsels Wet van 2000 voorgeskryf.
- Die GOP (IDP) is ‘n strategiese meganisme wat in plek gestel word om munisipaliteite te help om hulle ontwikkelingsmandaat uit te voer. Die hoofdoel van die GOP is om munisipaliteite te help om dienslewering te verbeter.
- Die GOP is ‘n geïntegreerde en deelnemende benadering waarby alle sektore en geaffekteerde individue betrokke is en dit het ten doel om plaaslike ontwikkeling aan te spreek.
- Die aspekte wat in die GOP aangespreek word sluit in ruimtelike beplanning, rampbestuur, finansies, prestasie doelwitte en ekonomiese ontwikkeling.
Die rede vir ‘n GOP
Daar is ses hoofredes waarom ‘n munisipaliteit ‘n GOP in plek moet hê:
- Effektiewe gebruik van hulpbronne;
- Dit help om dienslewering te verbeter en te bespoedig;
- Dit help om addisionele befondsing te verkry vir ontwikkeling deurdat beleggers en nasionale regering bereid is om te belê waar daar duidelike ontwikkelingsplanne in plek is;
- Dit versterk demokrasie;
- Help om die nalatenskap van apartheid aan te spreek. Veral gemeenskappe in plattelandse gebiede kry ook nou toegang tot dienste, iets wat hulle nie voorheen beskore was nie;
- Dit bevorder beter koördinering tussen plaaslike, provinsiale en nasionale regering.
Belangegroepe in die GOP proses
Daar is verskeie rolspelers betrokke by die GOP proses. Dit sluit in die plaaslike munisipaliteit, raadslede, gemeenskapsorganisasies, nie-regeringsorganisasies, geloofsgebaseerde groepe, sportfederasies, die provinsiale regering, die nasionale regering en sektor departemente.
Die GOP Prosesplan
Voordat die beplanningsproses begin moet die GOP proses plan opgestel word. Die plan het ten doel om die beplanningsproses glad te laat verloop.
Die plan moet die volgende insluit:
- Die struktuur vir die bestuur van die proses
- Hoe die publiek kan deelneem en strukture wat in plek gestel gaan word om deelname te verseker;
- Wie is verantwoordelik vir watter gedeeltes
- Tydskedule
- Hoe gaan monitering van die proses plaasvind
Die verwantskap tussen die GOP en Gemeenskapsdeelnameproses
Die twee komponente is onlosmaaklik deel van mekaar. Die GOP is die plan en dit word gedryf deur die deelname van die gemeenskap. Die Munisipale Stelselwet maak voorsiening vir n proses van gemeenskapsdeelname.
Die GOP is dus ‘n plan van wat die gemeenskap beskou as belangrik vir plaaslike ontwikkeling. Die munisipaliteit moet ‘n strategie daar stel oor hoe die gemeenskap betrokke gaan wees by die proses en dit moet met die gemeenskap gekommunikeer word.
Die GOP reflekteer dus wat die gemeenskap se behoeftes is en hoe dit aangespreek gaan word met belastingbetalers se geld.
Die munisipaliteit doen ‘n beroep op die inwoners van George om effektief betrokke te wees by die samestelling van die plan. Inwoners word versoek om die gedrukte en elektroniese media dop te hou vir meer inligting in die volgende paar weke.
GOP-kantoor:
Tans gesluit vir die publiek maar kan gekontak word gedurende kantoorure. Ronel le Fleur: 044 801 9075 / 071 870 7887 rlefleur@george.gov.za
Wykskomiteekantoor:
Tans gesluit vir die publiek maar kan gekontak word gedurende kantoorure. Paulina Saaiman: 044 801 9074 / 060 579 6829 pasaaiman@george.gov.za
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'