GEORGE NUUS - Savannah-helikopters, 'n maatskappy wat in George gebaseer is, help tans om 'n ernstige sprinkaanplaag in Ethiopië in Oos-Afrika, te bestry. Die plaag het reeds 240 000 hektaar se weiding en kos vernietig.
Dit word as 'n ernstige bedreiging vir die voedselsekerheid in Ethiopië beskou.
Die Verenigde Nasies (VN) het vroeg in 2020 tenders uitgesit om sprinkaanplae te bestry wat in groot dele van die vasteland voorkom. Conrad Maree, eienaar van Savannah-helikopters, het aansoek gedoen en was suksesvol. Die tender is kort voor die inperking in Maart toegestaan.
Volgens Maree het drie AS350 helikopters op 17 April na Ethiopië vertrek. Die mobilisasie-vlug het gestrek deur Zimbabwe, Malawi, Tanzanië en Kenia. As gevolg van die inperkingsmaatreëls moes hulle egter in tentjies op die lughawens oornag om kwarantyn in hierdie lande te vermy.
Met hul aankoms in Addis Ababa, hoofstad van Ethiopië en na 10 dae se kwarantyn daar, kon die werk op 1 Mei in alle erns begin. Die helikopters is aanvanklik na die Oromia en Somali provinsies, in die ooste en suide van die land, gestuur.
'n Tentjie op Harare, Zimbabwe se lughawe waarin 'n personeellid van Savannah Helikopters, oornag het onderweg na Ethiopië in Oos-Afrika. By die tentjie is 'n helikopter wat gebruik is.
Hulle taak is om die sprinkaanswerms op te spoor in die voetgangerfase - voordat hulle kan vlieg. Die inligting word dan deurgegee, waarna spuitvliegtuie met insekdoders die swerms spuit.
Savannah het intussen ook van die helikopters toegerus om insekdoder te spuit, tesame met 'n Air Tractor-spuitvliegtuig wat uit Amerika aangekoop is.
Maree het gesê daar was al voorheen sulke plae in die gebied, maar die huidige een word as die ergste in 25 jaar gereken. Dit kan toegeskryf word aan die droogte van die afgelope sewe jaar gevolg deur goeie reën teen die einde van 2019. Die gunstige toestande het groot getalle sprinkane laat uitbroei.
Die woestynsprinkaan eet alle groen plante en oeste asook blare, blomme, bas, vrugte, graan en rys. 'n Swerm van een vierkante kilometer bevat tot 80 miljoen sprinkane en kan op een dag die ekwivalent van voedsel vir 35 000 mense vernietig.
Ofskoon hulle vordering maak, is aanduidings dat die verwoesting nie binnekort gaan stop nie, het Maree gesê.
Volgens hom is die plaaslike bevolking vriendelik en behulpsaam. Hulle het waardering vir die werk wat die Suid-Afrikaners doen.
'n Helikopter en 'n personeellid van Savannah-helikopters besig om aandag te gee,aan die sprinkaanplaag in Ethiopië in Oos-Afrika.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'