GEORGE NUUS - George is meer as net 'n vakansiebestemming. Dit is 'n plek waar beleggers in byvoorbeeld die konstruksiebedryf kan kom belê.
Dit is deel van die boodskap wat belanghebbendes in die plaaslike TV en filmbedryf aan die res van Suid-Afrika en die buiteland wil bekendstel met behulp van televisie en YouTube.
Dit het ter sprake gekom tydens 'n geleentheid van die George-besigheidskamer. Garden Route Media, The Mediabox en Hartland Broadcasting is daarby betrokke.
Marius Wannenburg van The Mediabox het die voorlegging gedoen. Na afloop van sy voorlegging het verskeie sake-instansies navraag gedoen. Jacques van der Merwe van Hartland Broadcasting het aan die George Herald gesê George groei vinnig en die stad het potensiaal. "Ons wil aan mense wys George is nie net 'n vakansiebestemming nie." As deel van die planne gaan 'n TV-advertensieveldtog oor George vervaardig word. Die plan is dan om dit op van die DSTV-kanale en YouTube aan te bied. Na verwagting sal dit in die laaste deel van die jaar beskikbaar wees.
As deel van die DSTV-veldtog sal 10 besighede kan wys wat hulle het om te bied.
Van der Merwe het benadruk dit is 'n vars benadering en gaan om meer as net George bekend te stel. Dit gaan ook om byvoorbeeld werksgeleenthede te skep in die bedryf en mense op te lei.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'