GEORGE NUUS - 'n Fondsinsameling, in die vorm van 'n gholfdag op 11 Desember is van stapel gestuur om Johannes Munro, wat met Guillain-Barré syndrome (GBS) gediagnoseer is, se verpleegsorg te help betaal.
Munro was die afgelope twee maande in die Mediclinic George nadat hy binne 24 uur verlam gelaat is deur die siekte. Sy vrou, Annaline, vertel Johannes is op 26 November na 'n plaaslike rehabilitasiesentrum oorgeplaas.
"Die mediese fonds keur slegs 'n sekere aantal dae goed, wat van weeklikse evaluering en assessering afhang. Op hierdie stadium is ons nog onseker oor wat die finale mediese koste sal wees. Ons sal graag alles medies moontlik wil doen om hom 'n kans op volkome herstel te bied."
Johannes (43) is werksaam by 'n maatskappy wat bakkiekappies monteer, vertel Annaline. Die familie woon al 20 jaar in George en Johannes en Annaline leef vir hul twee dogters van onderskeidelik 14 en 9 jaar oud.
Annaline vertel hulle wil graag mense bewus maak van die fondsinsameling. Dit is 'n inisiatief van 'n goeie vriend wat besluit het om hulle met mediese kostes te help.
Johannes se neuroloog het bevestig dat dit 'n lang pad na herstel gaan wees, maar hy sal herstel. "Sy liggaam (spiermassa en liggaamsbou) sal verander en nie dieselfde wees as voor GBS nie. Hy werk tans saam met 'n mediese span van die rehabilitasiesentrum onder leiding van dr. Stopforth."
Johannes, Annaline en hul dogters Joanli (14) en Ansuné (9).
Annaline vertel, "Vir iemand soos hy wat elke dag fisiese werk gedoen het, is dit frustrerend om so te lê en onaktief te wees en om vir letterlik alles van ander afhanklik te wees. Ook dat die dinge meestal deur vreemdes gedoen word, ontbloot jou menswees en privaatheid en daarby gevoeg die stryd om jou denke positief te hou. Dit is elke dag 'n uitdaging."
Ook deel die twee met George Herald hoe hulle die afgelope tyd alles hanteer het.
"Ons is 'n gelowige gesin, met 'n goeie ondersteuningsbasis - familie en vriende wat ons in hierdie tyd dra. Hy is tans in rehabilitasie, maar hy mag geen besoekers ontvang nie as gevolg van Covid-19. Dis tans baie moeilik vir hom en ons, as geliefdes en ondersteuners."
Johannes se neuroloog sê in 'n mediese verslag gedateer 4 November - op die oomblik kan hy sy nek en skouers beweeg en het slegs geringe spiertonusbeweging in sy bene. Sy sê verder Johannes het geen beweging in van sy spiere in sy bolyf nie. Johannes is die medikasie IVIG gegee gevolg deur PLEX, en het geen verdere agteruitgang getoon nie.
As jy deel van die fondsinsameling wil wees, kontak Louis Ehlers by 079 897 5598.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'