Update
GEORGE NUUS - Hy en sy swart hond, Fix, het vir drie jaar in die strate van George rondgeswerf, maar ná 'n tragiese ongeluk, is Johan du Preez (56) se lewe verlede week kortgeknip.
Du Preez, oorspronklik van Port Elizabeth, was 'n bekende hawelose en hy en Fix was geliefd onder baie inwoners van George. Op Dinsdagaand, 10 November, het hy by die verkeerslig waar Mission- en Industrialstraat agter Stiles kruis glo voor 'n Go George-bus ingeloop.
Na die ongeluk het Fix styf teenaan sy baas gaan sit en geweier om sy sy te verlaat. Hy het selfs saam met Du Preez in die ambulans na die hospitaal gery waar die Tuinroete-DBV se inspekteur, Henrico Pypers, hom gaan haal het.
Du Preez is ongelukkig op Vrydag 13 November in die George-hospitaal oorlede. Sy geskiedenis voor hy George toe gekom het, is maar duister en hy het glo telkemale met die gereg gebots.
George Herald kon daarin slaag om sy familie te kontak, maar hulle het verkies om in hierdie stadium geen kommentaar te lewer nie.
Teen druktyd was daar nog geen formele begrafnisreëlings getref nie.
Du Preez se geskiedenis mag dalk duister wees, maar hy was glo baie lief vir sy hond Fix.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die voorval bevestig. "'n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die presiese oorsaak van sy dood sal later die week met 'n nadoodse ondersoek bevestig word."
Fix is steeds by die DBV en volgens hoofinspekteur, Salomé Bruyns, is daar reeds baie mense wat belangstel om Fix aan te neem. "Ons sal al die opsies oorweeg en, soos met al ons ander diere, seker maak Fix kry die beste huis," sê sy.
Meegevoel van busdiens
Kort na Du Preez se dood het Go George 'n kort persverklaring uitgereik waarin hulle medelye aan sy familie betoon.
"Dit is met spyt dat ons verneem van die heengaan van Johan du Preez, die voetganger wat verlede Dinsdagaand in 'n voorval met een van ons busse betrokke was. Ons betuig ons innige meegevoel met sy naasbestaandes."
Johan du Preez en Fix vroeër vanjaar kort na Fix deur 'n ander persoon aangeval is. Foto: Eugene Gunning
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'