GEORGE NUUS - Een van George se bekendste haweloses, Johan du Preez, is gisteraand Dinsdag, 10 November, omstreeks 19:00 glo deur ‘n bus getref.
Die voorval het by die verkeerslig waar Industrial- en Missionstraat kruis, plaasgevind.
Du Preez word geken deur sy hond Fix, wat nooit sy sy verlaat nie, en gisteraand was geen uitsondering nie.
Volgens inligting wat deur George Herald bekom is, het Du Preez se viervoetige-kind die heeltyd styf teen hom gesit en selfs saam met hom in die ambulans na die George-hospitaal gery.
Fix is deur inspekteur Henrico Pypers van die Tuinroete-DBV opgetel en na veiligheid geneem.
Volgens die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira, is du Preez in ‘n bedenklike toestand. In vroeër gesprekke met Du Preez het hy gesê sy suster woon in Vanderbijlpark.
Enigiemand wat moontlik kontak het met Du Preez se familie word gevra om die hospitaal by 044 874 5122 te kontak.
Verwante artikel: Dit gaan nou beter met Fix
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'