Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - Fix, een van George se bekendste honde, is Vrydag 28 Augustus vermoedelik met 'n knopkierie in die stadskern by Komma Weer Tuisnywerheid en Scandal's Hair Design deur 'n onbekende man geslaan, maar dit gaan nou baie beter met hom en hy herstel goed.
Hy is ná die voorval by die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging (DBV) behandel en daarna terugbesorg aan sy eienaar, Johan du Preez.
Die voorval vroeg Vrydagmiddag het baie aandag getrek en mense het hulle te hulp gesnel. Na die voorval wou almal weet hoe dit met Fix gaan. Fix en Du Preez is 'n bekende gesig in George. Hulle woon gewoonlik op straat en is onafskeidbaar.
Madelein Marais, Karen Combrink en Tané Pretorius van Komma Weer is na buite om die hond te gaan help.
"Sy snoet was vol bloed. Dit het gelyk of iemand hom met 'n knopkierie geslaan het," het Marais vertel.
"Johan was erg getraumatiseerd. Die hond was baie verward en het weggehardloop." Gelukkig kon iemand daarin slaag om hom te vang.
Fix kort na die voorval waarin hy aangeval is. Hy is later na die Tuinroete DBV vir behandeling geneem.
Combrink het gesê dit was erg ontstellend. "Die hond kom staan altyd hier voor ons deur en dan gee ons vir hom kos en water. Ons het al gewoond geraak aan hom en is baie lief vir hom."
Sy het Dinsdag weer vir Fix gesien. "Hy lyk baie verbouereerd en bang."
Anton Smit van Scandal's het gesê na die voorval is Fix na binne geneem waar hulle vir die DBV gewag het. Na bewering is daar gepoog om die aanvaller vas te trek, maar dit was onsuksesvol. Volgens hom is almal in die omgewing baie lief vir Fix. Soms koop van die mense en klante kos vir Fix en Du Preez. "Die gevoel hier is: Moenie aan Fix raak nie. Hy is 'n pragtige gemanierde hond."
Fix kort na die voorval waarin hy aangeval is. Hy is later na die Tuinroete DBV vir behandeling geneem. Foto's: Karen Combrink
Sheron Meas was in die stadskern toe sy die mense sien saamdrom. "Johan was baie hartseer en het die hondjie vasgehou. Dit was een van die hartseerste tonele wat ek ooit gesien het," het sy vertel.
Tuinroete DBV se bestuurder, Salomé Bruyns, het Dinsdag gesê Fix is behandel vir 'n wond aan sy kop.
Dit was nie so ernstig nie en hy is dieselfde dag nog teruggegee aan sy eienaar.
Verwante artikel: Kyk wie is weer saam
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'