Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dit was 'n blye weersiens Maandag toe Johan du Preez en sy beste vriend, sy hond Fix, herenig is.
Du Preez en Fix, wat gewoonlik op straat woon, het op Sondag 29 Maart sy hond tydelik aan die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) oorhandig.
Ingevolge die inperking kon Du Preez nie meer langer op straat woon nie. Die DBV het daardie Sondag goedgunstiglik ingestem dat die hond by hulle kan bly tot na die inperkingstyd en Fix is in die middedorp gaan haal.
'n Ongelukkige Du Preez was egter die Maandagoggend terug voor die DBV se hekke. Hy wou sy hond terughê. Hy het aangevoer dat hy nie die Sondagaand by 'n skuiling geholpe kon raak nie.
Tuinroete DBV se bestuurder, Salomé Bruyns, het Dinsdag by navraag gesê Fix is aan Du Preez terugbesorg nadat daar bevestig is dat hy 'n vaste adres in Wildernishoogte het. Volgens haar het dit gelyk of Du Preez en Fix baie bly was om mekaar weer te sien.
Johan du Preez en sy hond, Fix, in George se stadskern op Sondag 29 Maart kort voordat die hond na die Tuinroete DBV geneem is.
Kyk 'n video hieronder
Rita Brock, 'n inwoner van Hoekwil en lid van die organisasie Cat Assistance Team, het vertel dat Du Preez dit glad nie verwag het nie. Maandag was vir hom 'n groot verrassing.
Dit het 'n aanloop gehad. Die organisasie werk nou saam met die DBV en versprei kos aan diere in die gebied tydens die inperking.
Du Preez het haar onlangs genader en vertel hoe hy Fix mis. Brock het by die DBV navraag gedoen en vasgestel dat dit goed gaan met Fix. Du Preez het bly hoop.
Intussen het Du Preez 'n vaste woonplek gekry en daar is besluit om Fix weer vir hom terug te gee.
"Hy het dit nie Maandag verwag nie. Ons het almal trane in ons oë gehad. Dit was 'n baie mooi geleentheid," het Brock vertel.
• 'n Ander hawelose man wat ook sy hond tydelik by die DBV gelaat het, is ook met sy hond verenig. Die man het sy hond laat in Maart by die DBV gelos en onlangs gaan haal nadat hy woonplek by 'n familielid op 'n plaas naby George gekry het.
Bruyns het die publiek bedank vir hulle hulp met kos vir die diere wat in hulle sorg is.
Hulle ontvang ook baie navrae van die publiek wat kos vir hul diere wil hê. Die publiek help egter ook en sover kon die DBV nog bly voorsien in die vraag.
Mense is welkom om steeds kos na die Tuinroete DBV te neem. Hulle kantore is op weeksdae oop van 08:00 tot 16:00.
Johan du Preez that used to stay on the streets of George and his dog Fix, were reunited on Monday. Because of the lockdown Du Preez couldn't stay on the streets anymore and Fix was taken to the Garden Route SPCA. With the help of Rita Brock and the organisation Cat Assistance Team (Cat) Du Preez and Fix was reunited on Monday. That was after he got a permanent place to stay.
Johan du Preez en sy hond, Fix, in George se stadskern op Sondag 29 Maart kort voordat die hond na die Tuinroete DBV geneem is. Foto's: Eugene Gunning
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'