Update
GEORGE NUUS - Daar is nog geen verandering in Johan du Preez se toestand in die George-hospitaal nie.
Du Preez, een van George se bekendste haweloses, is Dinsdagaand, 10 November, omstreeks 19:00 glo deur ‘n bus getref.
Volgens inligting wat deur die George Herald ontvang is, het die voorval by die verkeerslig waar Industrial- en Missionstraat kruis, plaasgevind toe Du Preez glo voor ‘n Go George-bus ingeloop het. Navraag rakende die voorval is aan Go George gestuur. George Herald verwag binnekort terugvoer.
Du Preez word geken deur sy hond Fix, wat nooit sy sy verlaat nie. Fix was selfs saam met sy baas in die ambulans toe Metro-ambulansdienste hom na die hospitaal vervoer het.
Fix het glo die heeltyd styf teen Du Preez gesit en nie vir ‘n oomblik sy baas se sy verlaat nie. Hy is later deur inspekteur Henrico Pypers van die Tuinroete-DBV opgetel en na veiligheid geneem.
Volgens die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira, is du Preez steeds in ‘n kritieke toestand.
Du Preez het glo ‘n suster in Vanderbijlpark. Enigiemand wat moontlik kontak het met Du Preez se familie word gevra om die hospitaal by 044 874 5122 te kontak.
Vorige artikel: Bekende hawelose in kritiek in hospitaal
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'