Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - As wyle Johan du Preez, sy geliefde hond Fix, nou sou sien, sou hy glimlag. Fix het goed aangepas en is baie gelukkig by sy nuwe eienaar, Teresa Jardim. Fix trek deesdae aandag ver buite George se grense en 'n dieretydskrif gaan binnekort 'n artikel oor hom doen.
Du Preez, een van George se bekendste hawelose inwoners en sy hond Fix, was die afgelope paar jaar 'n algemene gesig in die middedorp. Hy is op 13 November in die George-hospitaal dood ná hy drie dae tevore voor 'n Go George-bus ingeloop het.
Fix het ná die ongeluk geweier om Du Preez se sy te verlaat. Hy is kort na die voorval met behulp van die Tuinroete-DBV, deur Jardim aangeneem.
'n Paar maande na sy aanneming is Fix duidelik tuis by sy nuwe huis.
Tydens George Herald se besoek verlede week, het hy uitgelate met 'n bal gespeel. Hy en die Jardim-familie se ander honde, Rocky ('n staffie) en Milo ('n Jack Russell) kom goed oor die weg.
Kyk 'n video hieronder:
Dis 'n lang pad wat hy geloop het voordat hy by die Jardim-familie beland het. Teresa ken hom eintlik al 'n rukkie baie goed. Die familie besit die Biltong Warehouse-winkels in die middedorp. Sy het dikwels vir Johan en Fix gesien soos sy tussen die winkels beweeg het. Soms het sy vir Fix ietsie te ete geneem soos 'n stukkie droëwors. Johan het haar altyd "ma" genoem en hy het na Fix as "broer" verwys.
Na die ongeluk het sy gewonder wat van Fix geword het. Sy het gehoor hy is by die DBV en het toe vir hom "doggie-bites" geneem. "Ek het vir Fix gaan kuier en 'n goeie verhouding met hom opgebou."
Fix en sy nuwe eienaar, Teresa Jardiml. By hullle is een van die familie se ander honde, Rocky.
Na 'n tydjie het sy aangebied om Fix aan te neem, as daar nie ander belangstellendes was nie en is die bal daarna aan die rol gesit vir die aanneming. Sedertdien is die familie en Fix onafskeidbaar. Hy het sy eie bal en slaap by hulle in die kamer. Hy is baie gehoorsaam. "Ek is nie spyt ons het hom aangeneem nie. Hy is 'n seëning vir ons familie."
Intussen het hulle meer dinge van Fix geleer soos dat hy 'n koeldrankbottel met sy bek kan oopmaak. Hy het ook weer selfvertroue ontwikkel en blaf weer. Hy is baie bly as die familie tuis kom en hul seun is ook baie gelukkig met hom.
Kyk 'n video hieronder:
Fix word bederf en hy word gereeld strand toe geneem. "Hy geniet die seewater."
Sover hulle kon vasstel, was Fix tussen vier en vyf jaar by Johan en hy is waarskynlik tussen vyf en ses jaar oud.
Fix wat deur Teresa Jardim aangeneem is. Foto's Eugene Gunning
Vorige artikels:
- Johan en Fix se hoofstuk afgesluit
- Finale afskeid vir Fix se Johan
- Gepaste afskeid vir Fix se Johan
- Hulp benodig vir du Preez se finale afskeid
'Ons brin gjou die nuutste George, Tuinroete nuus'