Update
GEORGE NUUS - Nog 'n 2020-hoofstuk is afgesluit toe die bekende hawelose van George, Johan du Preez, se gedenkdiens Maandagmiddag, 21 Desember, by die NG Kerk Bergsig-gemeente gehou is.
"Dit was 'n bittersoet ondervinding. Dit was baie hartseer, maar tog verblydend dat Johan 'n volwaardige gedenkdiens kon hê en nou kan rus," het Tuinroete-DBV se hoofinspekteur, Salomé Bruyns, ná die gedenkdiens gesê.
Du Preez, wat op 13 November in die George-hospitaal dood is ná hy drie dae tevore voor 'n Go George-bus ingeloop het, was saam met sy hond, Fix, 'n bekende gesig in die middedorp vir die afgelope paar jaar.
Fix, wat selfs ná die ongeluk geweier het om Johan se sy te verlaat, is kort na die voorval met behulp van die Tuinroete-DBV, deur Teresa Jardim aangeneem.
Ná sy dood het geen lid van Du Preez se familie sy liggaam opgeëis nie, en André Pieterse, 'n administratiewe klerk by die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai, het dit sy verantwoordelikheid gemaak om vir Du Preez 'n gepaste afskeid te reël.
Pieterse kon daarin slaag om deur 'n fondsinsameling op die BackaBuddy-platform, bykans R10 000 in te samel wat ook vir die gedenkdiens gebruik is.
Volgens Jardim, wat saam met Fix by Du Preez se gedenkdiens was, pas Fix baie goed aan. "Hy is baie gelukkig en pas goed by ons aan. Hy slaap soos 'n koning op sy eie bed en is groot vriende met ons ander hond, Rocky."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'