GEORGE NUUS - Sowat 'n maand ná sy dood word 'n volwaardige gedenkdiens vir wyle Johan du Preez op Maandag 21 Desember om 16:00 by die NG kerk Bergsig-gemeente gehou.
Du Preez, 'n bekende hawelose van George is op 13 November in George-hospitaal oorlede nadat hy drie dae tevore, op 10 November, voor 'n Go George-bus ingeloop het.
Kort na die voorval het André Pieterse, 'n administratiewe klerk by die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai, 'n fonds vir Du Preez se verassing deur die BackaBuddy-platform gestig. Hy het bykans R10 000 ingesamel wat vir die gedenkdiens gebruik word.
"Enigiets wat oorbly sal aan die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) geskenk word. Hulle het baie vir Johan en sy hond Fix, gedoen," sê Pieterse. Volgens ooggetuies wat die noodlottige aand op die toneel afgekom het, het Fix styf teen Du Preez gesit en wou hy nie sy baas se sy verlaat nie. Hy is selfs deur paramedici saam met Du Preez in die ambulans vervoer waarna die DBV Fix gaan haal het. Fix het intussen met die hulp van die DBV 'n nuwe tuiste gekry en volgens sy nuwe eienaar, Teresa Jardim, gaan dit baie goed met hom. Streng Covid-19-protokol sal tydens die gedenkdiens gevolg word en slegs 20 mense sal die geleentheid kan bywoon.
Vir meer inligting kontak Pieterse via WhatsApp by 082 267 7099.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'