GEORGE NUUS - Die verfilming van vyf films deur die plaaslike mediahuis, Garden Route Media, het die afgelope klompie maande in en om George en die Tuinroete-distrik plaasgevind.
Die eerste film, Moordenaars Karoo, is Saterdag, 2 Julie, op kykNET uitgesaai, waarna nóg vier films oor die volgende agt maande vanaf Augustus tot Maart volgende jaar sal volg.
Moordenaars Karoo is geskiet in Klaarstroom, en is ‘n storie oor ‘n rustige Karoodorpie wat vasgevang is in droogte. “Onder die oppervlakte borrel en prut die onheil soos ‘n bruisende stroom water wat wag om ontdek te word,” verduidelik assistent regisseur, Cara Botha.
Al vyf films is vervaardig vir kykNET en diegene wat Saterdag se film gemis het kan dit steeds op DStv Catch Up vind.
Die hele filmspan en die meeste van die akteurs wat in dié vyf films speel, is plaaslik. “Die regisseurs van elke film is ook almal plaaslik en sluit in Hannes Muller, Lika Berning, Jan-Hendrik Burger, Anton Treurnich en Adin Walls,” het Botha, gesê.
In Moordenaars Karoo is die volgende akteurs te siene: Eric Nobbs, Dania Ackerman, Jason Hartman, Tanita da Silva en Jaques van Jaarsveld. Dit is ook die film waarin Jason Hartman, oftewel 'Hakkiesdraad' Hartman, ‘n plaaslike rymkletser en kunstenaar, sy filmdebut maak in die rol van Arend, 'n Khoi-waterdraer.
"Dit was 'n geweldige eer om teenoor gesoute akteurs soos Eric Nobbs, wat al 40 jaar ondervinding het, te speel," het hy gesê. "Moordenaars Karoo het my die geleentheid gegee om my eie kultuur in 'n film te verteenwoordig. Oor die jare het die Khoi meer van 'n stem gekry en dit doen wondere vir die selfvertroue en trots van ons mense. Ek hoop my bydrae het bygedra tot 'n groter sin van trots.
"Ons industrie groei, en 'n film soos dié maak die moontlikhede net meer vir die Suid-Kaap. Dit was 'n blessing om deel te wees van so 'n proses." Hy sê hoewel toneelspeel nie noodwendig vir hom 'n droom was nie, beskou hy dit as deel van die uitvoerende kunste, waarmee hy hom vereenselwig. "Hierdie ondervinding help om my as kunstenaar op verskeie vlakke te ontwikkel. Dit was ongelooflik om met so 'n uiteenlopende groep mense te werk." Hartman verskyn in nog 'n film deur Garden Route Media, waar hy 'n kleiner rol van 'n tradisionele leier speel.
Botha sê daar's heelwat uitdagings tydens verfilming in die Tuinroete, maar die ervaring was ongelooflik. “Ons het dit vreeslik geniet om saam die mense in die streek te kuier en die mooi dorpies te ontdek. Ons sal dit nooit vergeet nie. Ek dink die streek het al baie gevorder in terme van verfilming en ek dink hier is iets groot op pad vir Garden Route Media en die streek.”
Moordenaars Karoo is geskiet in Klaarstroom, sowat 95 km van Uniondale:
Kyk uit vir hierdie films
- Hart in Bos is ‘n romantiese komedie wat verfilm is by die ATKV Hartenbos-vakansieoord: Vakansies in Hartenbos is die perfekte tyd vir romanse, ou liefde wat opvlam en onverwagse verliefdheid wat die hele wêreld omkeer. Hierdie is omstandighede waarin Cupid oortyd werk, met katastrofiese gevolge. Die film word 13 Augustus om 20:00 uitgesaai.
- Die Dors is ‘n aksiefilm wat in die George-omgewing geskiet is: Dalyn is ‘n gewone man wat in ‘n ongewone tyd van groot droogte leef. Soos sy wêreld om hom in mekaar tuimel besef hy dat sy dors oor soveel meer gaan as net ‘n paar druppels water. Die film word op 1 Oktober om 20:00 uitgesaai.
- Weerwraak is ‘n riller wat in Hoekwil geskiet is: ‘n Stuk grond wat nooit ontwikkel moet word nie. ‘n Bospad waarop hulle nie durf stap nie. ‘n Huis waarvan die deure vir altyd toe moet bly. Sondes van die verlede wat nou wraak soek. Die film word 24 September uitgesaai.
- Kampvuur is ‘n spannings riller wat op Louvain-gasteplaas geskiet is: ‘n Spookstorie wat gegrond is op ‘n Klein-Karoo reeksmoordenaar. ‘n Groep vriende wat een vir een spoorloos verdwyn. Hier word jy van alles gestroop, tot net die angs en die vrees oorbly. Die film word 18 Maart 2023 uitgesaai.
Diegene wat Moordenaars Karoo gemis het, kan dit steeds op DStv Catch Up vind.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'