Gallery
GEORGE NUUS - Die Lewis-egpaar van Saturnusstraat in Parkdene se hartverskeurende ondervinding met hul dwelmverslaafde seun het hulle gemotiveer om 'n projek te begin wat kinders uit die strate en hopelik weg van die strik van dwelms sal hou.
Hulle het 'n speletjiesentrum twee en 'n half jaar gelede teenaan hul huis ingerig waar kinders speel-speel besig bly en boonop drie keer per week 'n bekertjie sop ontvang.
Smiddae na skool is daar 'n geroesemoes van kinderstemme, gemeng met die klap van houe op 'n dambord of snoekerballe op die snoekertafel en geluide van 'n kleurvolle animasiefliek wat op 'n TV-skerm teen die muur speel. Daar is 'n reuk van geurige sop in die lug. By "Oom" Gerald en "Tannie" Perley voel die kinders duidelik welkom en veilig.
Agt-en-sewentig kinders se name verskyn gereeld op die besoekerslys.
Perley se oë skiet vol trane wanneer sy vertel hoe een van hul drie seuns al vir 10 jaar in dwelmmisbruik vasgevang is. Hy het deur groepsdruk op skool begin dwelms gebruik. Hy woon by hulle in die huis, maar van tyd tot tyd verdwyn hy vir lang rukke. "Dis vir ons verskriklik, want ons weet dan nie waar hy is en of hy dalk iets oorgekom het nie. Hy het al vir ons gesê dat hy dan in die bosse slaap."
Deur 'n veilige hawe in die buurt te skep, probeer die Lewisse 'n positiewe impak maak wat kinders hopelik sal ontmoedig om met dwelms te eksperimenteer. "Dissipline en die bou van die kinders se selfbeeld is vir ons belangrik. Ons het reëls in plek en as jy nie daarby hou nie, word jy die plek vir 'n bepaalde tyd belet. Hulle moet leer wat is sosiaal aanvaarbaar. Ons wil die ouers nooi om te kom kyk waar hulle kinders is," sê Perley. Sy en Gerald hou self toesig.
Die sentrum het 'n verskeidenheid musiekinstrumente waarop van die kinders al begin het met lesse. Die Lewisse is albei musikaal. Drie masjiene met 50-sent speletjies lewer 'n klein inkomste om van die uitgawes te dek, maar dis nie genoeg nie.
Danksy 'n anonieme donateur, het hulle wel wi-fi, maar hulle benodig rekenaartoerusting sodat die groter kinders navorsing vir hul take op die internet kan doen. Kinderboeke en tydskrifte vir die skep van 'n leeshoekie is ook op hulle droomlysie.
Agt-en-sewentig kinders se name verskyn gereeld op die besoekerslys.
Perley kry sopgroente by die George-munisipaliteit vir drie dae se sop, maar sê sy sal graag 'n toebroodjie wil by gee of selfs 'n gekookte ete. Sy kook op 'n geleende stoof, maar dit moet een of ander tyd aan die eienaar terugbesorg word en haar hoop is dat 'n borg 'n stoof sal skenk. Vrywilligers wat vir kinders kan voorlees of hulle help met lees of kreatiewe aktiwiteite, sal ook verwelkom word.
Mense wat betrokke wil raak by hul projek, kan vir vir Gerald kontak by 081 576 1690.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'