Update
GEORGE NUUS - Die vele fasette van wyle Marius Swart se lewe en die groot bydraes wat hy gelewer het, het na vore gekom tydens twee geleenthede wat gehou is om sy lewe te vier. Hy is op Sondag 17 Januarie in Mediclinic George oorlede.
Die DA, wat 'n groot rol in sy politieke loopbaan gespeel het, het op Vrydag 22 Januarie 'n verbyrit-gedenkdiens in die stadskern gehou en Saterdag 23 Januarie is 'n virtuele viering van sy lewe gehou.
Tydens beide geleenthede is hulde gebring aan Swart, die familiemens, die politikus en sy rol in die gemeenskap.
Motors het in 'n konvooi deur die stadskern gery en mense het ook vir 'n paar oomblikke stilgestaan.
Tydens die virtuele geleent-heid het verskeie mense in Suid-Afrika en selfs uit die buiteland ingeskakel. Onder hulle was sy eggenoot Sannett, sy familie, vriende, Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en Leon van Wyk, George se burgemeester.
'n Hartseer Sannett het vertel dat Marius haar rots was. Sy het mooi herinneringe wat sy sal dra tot hulle mekaar weer ontmoet.
Helena Swart, 'n dogter, het gesê die grootste geskenk wat sy van haar pa gekry het was onafhanklike denke. Haar pa was 'n kind se beste vriend. Toe hulle kinders was, het hy saam met hulle vlieërs gebou.
Van links is Leon van Wyk, George se burgemeester, Liezel Momberg, Marius Swart (jr.) en Tertuis Simmers, voorsitter van die DA se oosstreek, Vrydag tydens die verbyry-geleentheid. Foto: Eugene Gunning
Marius (jr.) het gesê sy pa het die naam (pa) met trots gedra. Hy het sy kinders met respek behandel en hulle laat lag. Hy is op die dag dood wat wyle Muhammed Ali verjaar. Een van Ali se gunsteling gesegdes was: "Moenie die dae tel nie. Maak die dae tel." Dit is hoe sy pa gelewe het.
Liezel Momberg, Swart se oudste dogter, het gesê haar pa het van mense gehou en mense het van hom gehou. "My pa was nie net 'n pa nie. Hy was 'n vriend." Sy het ook vertel dat jy nooit vir hom moes jok nie.
Teen die einde van die geleentheid is mense gevra, waar hulle ook al is, om 'n glasie te klink of selfs koffie te drink ter viering van Swart se lewe.
Twee van Marius Swart se kinders, Liezel Momberg en Marius Swart (jr.) het Vrydag die verbyry-geleentheid bygewoon. By hulle is Leon van Wyk, George-burgemeester en Tertuis Simmers, voorsitter, van die DA se oosstreek. Foto: Eugene Gunning
Vorige artikels
- Marius Swart se lewe gevier
- Hulde gebring aan Marius Swart
- Wyle Marius Swart se lewe die naweek gevier
- Marius Swart oorlede
- Marius Swart se toestand onveranderd
- Eks ANC-Burgemeester sterf, eks DA-Burg kritiek
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'