GEORGE NUUS - Marius Swart, ‘n voormalige burgemeester van George en ‘n parlementslid, is vanmiddag (Sondag 17 Januarie) kort voor 15:00 in ‘n hospitaal in George oorlede. Hy was 79 jaar oud.
Swart was die afgelope paar dae in die hospitaal in ‘n kritieke toestand. Hy is op Vrydag 8 Januarie in die hospitaal opgeneem nadat hy Covid-19 opgedoen het.
Steyn Momberg, Swart se skoonseun, het kort gelede aan die George Herald bevestig dat hy oorlede is
“Dis ‘n groot skok. Hy was eindelik redelik gesond het,” het Momberg gesê.
Tertuis Simmers, voorsitter van die DA se oosstreek, het namens die party in die streek sy medelye aan die familie betuig. ”Marius het ‘n dinamiese rol oor ‘n lang tydperk in die DA in die oosstreek gespeel,” het Simmers gesê.
In die stadium is geen begrafnisreëlings nog getref nie. Meer besonderhede sal later bekend gemaak word.
Swart word oorleef deur sy eggenoot, Sannett, drie kinders, Marius (jnr), Helena Swart en Liezel Momberg en drie kleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'